Hof verbied EFF om standbeeldskending aan te moedig

Die Paul Kruger-standbeeld in Pretoria. Foto: Twitter

Die Paul Kruger-standbeeld in Pretoria. Foto: Twitter

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Dinsdag ʼn interdik toegestaan waarvolgens die EFF en sy lede verbied word om die publiek aan te hits om enige standbeelde in die land te beskadig of te verwyder.

Die Solidariteit Beweging het die aansoek gebring en versoek dat spesifiek Julius Malema, leier van die EFF, Mbuyiseni Ndlozi, die party se nasionale woordvoerder, en Moafrika Mabongwana, die party se adjunkvoorsitter in Tshwane, verbied word om voortaan enige van die party se lede en ondersteuners aan te hits om nasionale monumente en standbeelde in Suid-Afrika te ontsier, beskadig of te verwyder.

Johan Kruger, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, het gesê dit sluit spesifiek monumente en standbeelde wat die Afrikaner-geskiedenis en -kultuur verteenwoordig in.

Volgens Kruger is die hofuitspraak ʼn reuse-oorwinning vir die Afrikaanse kultuurgemeenskap en stuur ʼn duidelike boodskap teen die vernietiging van die Afrikaner-geskiedenis en -erfenis uit. “Die ontsiering en beskadiging van standbeelde wat ’n bepaalde deel van die Suid-Afrikaanse geskiedenis verteenwoordig, is ’n uiters emosionele saak. Hierdie soort optrede is verdelend en veroorsaak dat spanning tussen kultuurgemeenskappe en rassegroepe oplaai,” het hy gesê.

Hy het gesê die beweging sal die EFF se leierskap fyn dophou en, indien hulle nie aan die hofbevel gehoor gee nie, ʼn aansoek van minagting van die hof teen die party bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris van Heerden ·

Dankie Solidariteit dit was eintlik die werk wat die ANC moes gedoen het maar ons almal weet dat hulle ondersteun die beskadiging van die beelde ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.