Lt. Ramonkung Thobejane, polisiewoordvoerder, het Woensdag aan Maroela Media gesê die voorval het omstreeks 10:00 in Pittsstraat in Dunkeld plaasgevind.
“Die slagoffer het ʼn Land Rover bestuur en is glo deur ʼn silwer Audi A4 agtervolg vanaf Bompasweg,” het Thobejane gesê. “Sy was alleen in haar voertuig en daar was na bewering drie gewapende mans in die Audi.”
Die verdagtes het in Pittstraat die vrou se voertuig probeer voorkeer. Sy het die mans sien aankom en probeer vlug, waarna hulle haar deur haar voertuig se ruit geskiet het.
“Die verdagtes het daarna terug in hul motor geklim en van die toneel weggejaag. Dit is nog nie bekend of hulle iets uit haar motor gesteel het nie.” Ooggetuies op die toneel beweer die verdagtes het die vrou se handsak en selfoon gesteel voordat hulle gevlug het. Die polisie sal dit egter eers kan bevestig as hulle die vrou se verklaring in die hospitaal afneem.
Santi Steinmann, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici het die vrou langs die pad aangetref. “Sy was in ʼn kritieke toestand. Sy is op die toneel behandel en na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere behandeling,” het Steinmann gesê.
Die verdagtes is steeds soek. Die Bramley-polisie ondersoek ʼn saak van poging tot moord en ʼn poging tot kaping.
Thobejane het enigiemand met meer inligting oor die voorval versoek om die Bramley-polisiestasie te bel.
Nes die vorige berig – al verskil is: hierdie slagoffer is in ‘n kritieke toestand!!
Een van die 50 veiligste stede ter wêreld en die enigste een in Afrika . . .
Laat mens dink né . . .
Klink nie na ‘n poging tot kaping maar meer na ‘n poging tot ‘n hit.
Nog een…..en nog een…..wanneer gaan ons regering wakker word? Dis nou n sport en nie meer misdaad nie. Sterkte aan die familie