Karstoeltjies binnekort verpligtend

Argieffoto

Argieffoto

Motoriste sal binnekort wetlik verplig word om kleuters in motorstoeltjies vas te gespe wanneer hulle in voertuie ry.

Tiyani Rikhotso, woordvoerder van die departement van vervoer, het gesê die nuwe regulasie sal vanaf 1 Mei by die Padverkeerswet ingesluit word en dat motoriste wat dit verontagsaam, ʼn swaar boete opgelê kan word. “Volgens die nuwe regulasie moet alle kinders van drie jaar en jonger in ʼn motorstoeltjie wees,” het Rikhotso gesê.

Die minister van vervoer, Dipuo Peters, het reeds in Oktober verlede jaar aangekondig dat die nuwe regulasie in werking sal tree, maar het motoriste tot Mei gegee om die nodige veiligheidstoerusting aan te skaf.

Volgens Arrive Alive is motorstoeltjies van kardinale belang om die kans op dood en ernstige beserings tydens motorongelukke te verminder. Die agentskap het gesê navorsing het bewys dat motorstoeltjies wat korrek geïnstalleer is en vir kinders onder die ouderdom van vier gebruik word, hospitalisasie na ʼn motorongeluk met tot 69% verminder. Daarby word die risiko van sterftes onder babas met 70% verminder en met 47% tot 54% vir kleuters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

ladybug ·

Skandelik dat dit nou eers Wet gemaak word, en soos met al die ander Wette in ons land gaan hierdie ook maar net op papier bly en nie opgevolg word nie!

zahn ·

Stem heeltemal saam met jou. Wat my bekommer is wat word van die kind sodra hy ouer as 4 is? Tot en met omtrent 10 is hulle nog nie groot genoeg ontwikkel sodat die standaard stiplekgordel enigsins op hulle sal werk nie. Weereens ‘n leemte?

Tammy ·

Hoop net die wet op karstoeltjies gaan beter toegepas word as die op selfone!!!! Elke tweede person is op sy selfoon terwyl hy bestuur. Taxis en busse moet ook dan karstoeltjies kry!

Peet Schabort ·

Wonder of hulle ooit aan die taxis en busse gedink het Tammy.
Sal net weer nog ‘n wet op die wetboeke word. Dit sal egter ons ander ‘n kans gun om die voertuigbestuurder wettig aan te spreek.

Dominique Dercksen ·

My kinders is 4 en 6 jaar oud. Hulle is van geboortes af in karstoeltjies en soos hulle groter geword het, het ons die stoeltjies aangepas.

Daar is egter karstoeltjies wat gemaak is tot die ouderdom van 11 jaar. My kinders is dit al gewoond en ons ry nie eers winkel toe, sonder dat hul eers vasgemaak word in die stoeltjies nie.

My kind van 6 jaar, se stoel is groot en kan verstel word soos sy ouer word. Sy sal tot op 11, selfs miskien 12 jaar ouderdom in haar stoeltjie pas en bly. Selfde met my seuntjie van 4 jaar, soos hy ouer word, sal ons sy stoeltjie ook aanpas.

Dit bly permanent in my motor en sou die kinders iewers saam ons moet ry, ry ons met my motor, juis sodat hulle vas gemaak kan word in hul stoeltjies.

Deesdae kry mens oulike stoeltjies met cupholders by en die kinders hou daarvan. So mense moet net besluit waar hul prioriteit lê as dit kom by hul kinders se veiligheid in ‘n motor.

Vir ons wat dit nie eers ‘n opsie nie. Ons het stoeltjies gekoop en hou aan koop soos dit nodig word. Die wat te klein raak, word of gebruik vir my 4-jarige of verkoop.

Maak die besluit en weet jy dra by tot jou kinders se veiligheid.

Peet Schabort ·

Dominique, dankie jou werklike positiewe bydrae. My dogter en skoonseun het ook die onverbiddelike houding ingeneem dat as die kinders nie in daardie stoeltjies vasgegespe is nie dan draai die wiele NIE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.