Kersvader pot glo eks-skoonpa

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Kersvader by ʼn winkelsentrum in Oos-Londen is afgedank nadat hy glo sy voormalige skoonpa geslaan het, het die Daily Dispatch Vrydag berig.

Volgens die berig het die beweerde voorval Woensdag by die Hemingways Mall plaasgevind terwyl inkopiegangers en hul kinders tou gestaan het om ʼn foto saam met Kersvader te neem.

Eugene Henning het aan die Dispatch gesê dat hy besig was om inkopies by die winkelsentrum te doen. “Ek het gestaan en rondkyk toe Kersvader my genader het en gevra het om die sentrum te verlaat aangesien my teenwoordigheid hom onderbreek het.”

Henning het eers hierna besef Kersvader is sy voormalige skoonseun. “Ek het vir hom gesê ek is ʼn besoekende lid van die publiek en dat ek die reg het om daar te wees.”

Gary Rusch, oftewel Kersvader, het Henning toe glo geslaan. Henning het ʼn klag van aanranding teen Rusch aanhangig gemaak. Estée Roos, bemarkingsbestuurder van die winkelsentrum, het bevestig dat Rusch afgedank is.

Hubert Mhambi, ʼn ooggetuie, het gesê sy kinders het begin huil en nie die foto gekry waarna hulle gesoek het nie. “Maak nie saak hoe ontsteld hy was nie, hy moes kalm gebly het en nie homself verneder het en die kinders ontstel het wat spesiaal gekom het om hom te sien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.