Kommissie hof toe oor grafte wat weer gebruik word

Argieffoto (Foto: Artbejo, Pixabay)

Argieffoto (Foto: Artbejo, Pixabay)

Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Linguistiese Gemeenskappe het Dinsdag gesê hy sal die hof nader nadat grafte sonder die naasbestaandes se toestemming weer gebruik is.

“Ons moet die hof nader oor hierdie kwessie,” het Thoko Mkhwanazi-Xaluva, voorsitter van die kommissie, aan verslaggewers in Johannesburg gesê. “Die skade wat in terme van kultuur en spiritualiteit aangerig is, is onherstelbaar.”

Die kommissie het ʼn verslag oor die hergebruik van grafte deur plaaslike regerings voorgehou ná herhaaldelike klagtes in verskeie munisipaliteite ontvang is oor die verwydering van grafte van geliefdes sonder die naasbestaandes se toestemming. Talle klagtes is in die Ethekwini-metro in Durban, KwaZulu-Natal, ontvang.

Mkhwanazi-Xaluva het gesê die kommissie sal die stryd vir die menswaardigheid van arm mense hof toe neem. Sy het gesê die kommissie bespreek die kwessie al sedert 2011 met die owerhede.

Klaers het uitgevind dat ander persone se oorskot sonder toestemming in die graf van ʼn geliefde begrawe is, of het op grafte afgekom wat half oopgegrawe is ter voorbereiding van iemand anders se begrafnis.

“Die regering moet persone se kulturele regte respekteer,” het sy gesê. “Dit is nou 20 jaar later in ʼn demokratiese Suid-Afrika, wat deur die ANC gelei word, en ons het ʼn situasie waar die regte deur die ANC misken word. Dit beteken diegene wat aan bewind is, minag die regte van arm mense.”

Mkhwanazi het vroeër gesê die Ethekwini-munisipaliteit het ʼn beleid waar inwoners huur moet betaal vir ʼn graf tot 10 jaar ná die begrafnis. Indien die familie nie ʼn grafsteen binne 10 jaar laat oprig nie, word die graf aan iemand anders toegeken. “Ethekwini moet gestuit word voordat ander munisipaliteite ook in hul spoor volg en gemeenskappe vir grafspasie begin geld vra,” het sy gesê.

Die kommissie sal ook ondersoek instel dat grafte verwyder word ter wille van Eskom se Medupi-kragstasie in Limpopo. “Dalk is dit die rede waarom die kragstasie net nie klaarkom nie, omdat mense se oorskot daar is. Mense se regte word vertrap, en ons hoor van oorblywende grafte in Medupi se omgewing wat met ʼn heining toegespan is en geliefdes kan nie die grafte bereik nie.” Sy het gesê Eskom en die regering moet verantwoording doen sodra ʼn ondersoek afgehandel is oor grafte wat by Medupi vernietig is.

Tinyiko Maluleke, professor in Afrika Spiritualiteit en Kultuur aan die Universiteit van Pretoria, het gesê die groot probleem met grafte is grond, gevolg deur handelsbelange. “Ons moet onthou dat begrafnisse ʼn groot besigheid in Suid-Afrika is. Daar woord groot winste gemaak uit begrafnisse en daar is geen rede om nie te glo dat munisipaliteite geïmpliseer kan word nie, maar daar is geen bewyse nie,” het hy gesê. Hy het gesê die praktyk deur plaaslike owerhede skend die menswaardigheid van die persone wat nog leef, wat die verbinding tot hul oorlede geliefdes wil bewaar, en nie die afgestorwenes nie.

Mkhwanazi het gesê die kommissie het met beamptes van die Ethekwini-munisipaliteit, die SA Plaaslike Regeringsassosiasie, die Huis van Tradisionele Leiers en die portefeuljekomitee van tradisionele sake vergader om hul besware aan te roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

CHRISTA ·

Hulle eie regering het nie eers respek vir hulle kultuur en menseregte nie!!!

Asjas ·

Alhoewel my geloof dit nie toelaat nie het ek besluit om veras te word. Ek gaan in elk geval alles wat bruikbaar is skenk en die res moet hulle maar iewers strooi. Te veel grafte word geskend en die regering sien glad nie meer na begrafplase om nie. Ek wil ook nie ‘n “plek” word wat my familie voel hulle MOET besoek of blomme kom neersit nie.

Berhalet Beukes ·

Nee hel, as grafte wat voor betaal is “hergebruik” word soos herwinde produkte, het ons land sielsiek mense in sy geledere! Dis skokkend, disrespekvol en boos! Sies!

THEA SWART ·

hulle sien dit nie as dis-respekvol nie – hulle sien dit as hulle “cultural rights” so ons kan maak net soos ons wil maar ons gaan bly verloor – hulle doen dit net dood eenvoudig in die middle van die die nag en basta met jou – as jy weer by jou geliefde se graf uitkom is daar sommer ‘n ander naam en van op – hoe belaglik –

zahn ·

Die kern van die probleem is dat daar vandag geen respek is nie. En die voorbeeld word gestel deur nei nommer een beeswagter in die land.

Beeswagterjie ·

Ek neem kennis van hierdie probleem.
Dis heeltemal ontoelaatbaar.
Daar sal drie kommissies van ondersoek aangestel word. Na ek die drie verslae deeglik ondersoek het sal daaroor dink en heel moontlik nog ‘n verslag aanvra van die OB.
Daarna het julle almal van die probleem vergeet en kan ons aangaan om te doen wat ons wil…

Eliza-beth ·

Verassing is die beste. Geen grafsteendiewe/graf skenders wat die familie kan ontsig en hopelik sal my assies eendag eendag ‘n boom of plant van kompos voorsien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.