Krokodil byt man van Pretoria

Okkert Smit en sy vrou, Zenobia Foto: Facebook

Okkie Smit en sy vrou, Zenobia Foto: Facebook

Okkert Smit (53) van Pretoria het ʼn noue ontkoming gehad toe ʼn krokodil hom by die Rust de Winter-dam, noordoos van Pretoria, aan die kuit beetgekry het.

“My het gister ʼn operasie ondergaan en hy is reeds vandag ontslaan,” het Riaan Smit, Okkie se seun, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Okkie is Dinsdag gebyt terwyl hy by die dam visgevang het. “My ouers gaan kamp gereeld elke paar maande by die dam,” het Riaan bygevoeg. “ʼn Vis het gebyt en my pa is in die water in om die vis in die net te sit. Die volgende oomblik het iets om hom gespartel en hom gegryp.”

Die krokodil het gelukkig nie Okkie se been beetgekry nie, en hy kon uit die water hardloop. Sy vrou Zenobia, het dadelik ontsmettingsmiddel op die oop kuitwond gesit en hulle moes 80 km na die Montana-hospitaal in Pretoria aflê.

“Dit is ʼn wonderwerk,” het Riaan gesê. “Ek en my jonger sussie het juis die afgelope naweek na ʼn natuurprogram op televisie gekyk waar hulle gesê het ʼn krokodil het die sterkste kakebeen. Ek besef nou eers wat kon alles gebeur het.

“My pa het nou ʼn kampstorie om te vertel,” het Riaan geskerts. “Sy kleinkinders sal altyd kan sê ʼn krokodil het hulle oupa gebyt.”

Okkie is ʼn afgetrede elektrisiën.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.