‘Laat publiek toe om sélf ook krag op te wek’, sê Solidariteit

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

Argieffoto (Foto: SnapwireSnaps, Pixabay)

Die elektrisiteitskrisis het op die ou end slegs een oplossing en dit is om die publiek toe te laat om ook krag op te wek, te versprei en te verkoop.

So sê Solidariteit, in samewerking met die selfdoen-ekspo KragDag, in ’n petisiebrief vandag aan die minister van energie, Tina Joemat-Pettersson.

Die petisiebrief versoek die minister om dringend groter regulatoriese vrystelling vir private kragvoorsiening aan te kondig. Tans vereis die Elektrisiteitsreguleringswet van 2006 dat niemand sonder ’n lisensie van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) elektrisiteit mag opwek, oordra of versprei, of in elektrisiteit mag handeldryf nie, behalwe vir eie gebruik en nie-kommersiële doeleindes of soos andersins deur die minister bepaal.

Ten spyte van harde werk deur vele Eskom-werknemers, waarsku die petisiebrief, is die elektrisiteitsprobleem in Suid-Afrika eenvoudig té groot om deur Eskom en die regering alleen opgelos te word. “Die elektrisiteitskrisis kan slegs met vele hande – deur uitgebreide private huishoudelike en kommersiële opwekking – opgelos word. Dít word egter verhoed deur staatsregulasies wat binne u magte is om te verslap,” lui die brief.

Piet le Roux, hoof van die Solidariteit-navorsingsinstituut, benadruk dat die publiek nie nét op Eskom aangewese kan wees om in hul kragbehoeftes te voldoen nie. “Dit is onbillik van die regering om te verwag dat die publiek hande gevou moet sit terwyl afleggings toeneem, miljarde rande se skade gely word en ʼn ineenstorting van die nasionale kragnetwerk dreig. Die regering behoort onafhanklike kragvoorsiening in hierdie onsekere tye te verwelkom, eerder as om wetgewing daarteen te hê,” het Le Roux gesê.

Le Roux het gesê vrese vir ʼn algehele elektrisiteitsnetwerkineenstorting is nie ongegrond nie. “Ons verneem dat noodplanne byvoorbeeld reeds deur die kabinet beraam is om senior regeringslui in só ’n geval te beveilig,” aldus Le Roux.

Die publiek word genooi om die petisie te steun in aanloop tot Solidariteit KragDag, ’n omvattende selfdoen-ekspo wat op 26 en 27 Junie in Pretoria gehou word. Die betrokke wetgewing, leemtes daarin en maniere om minder van staatselektrisiteit afhanklik te wees, sal tydens die ekspo hoog op die agenda wees.

Die publiek kan deelneem deur www.solidariteit.co.za te besoek en ʼn aanlyn-petisievorm in te vul, of deur die woord “KRAG” na 34802 te SMS (SMS’e kos R2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dave ·

Ek sien jou nuutste gier is om een sin Engelse sinnetjie te skryf. Die korrekte spelling is ‘competition’.

scalla ·

Dave, jammer vir die tikfout maar jy het verstaan wat ek bedoel aangesien jy dit twee keer beaam

Dave ·

Ek sien jou nuutste gier is om een sin Engelse sinnetjies te skryf. Die korrekte spelling is ‘competition’.

CHRISTA ·

Wat ‘n grap – en Nelson Mandela en sy vrinne het tydens hulle eerste stemwerkingsveldtog aan hulle aanhangers GRATIS WATER EN LIGTE, GRATIS ONDERWYS, GRATIS MEDIESE DIENSTE, GRATIS BEHUISING belowe!! Wat het daarvan geword? Of het hulle bedoel dis net GRATIS vir die ANC leiers???

Winston ·

Ja dis feite. Nie gegaan oor demokrasie nie. Hulle het nie n idee wat dit beteken nie. Oor hierdie soort apartheid word geen woord uit die buiteland gesê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.