Liggaam in brandende kar nog nie geïdentifiseer

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die man wie se liggaam Maandagoggend in die kattebak van ʼn uitgebrande motor in Floridapark, Johannesburg, gevind is, is nog nie amptelik geïdentifiseer nie.

“Ons wag vir forensiese toetse om die identiteit van die persoon te bepaal, aangesien hy onherkenbaar verbrand het. Dit kan ʼn paar dae neem,” het maj. Mack Mngomezulu, polisiewoordvoerder, gesê.

Die polisie moet steeds vasstel of die man dieselfde persoon is waaraan ʼn maatskappy ʼn maatskappymotor toegeken het.

The Star het die man Dinsdag as Gerard Sadan geïdentifiseer. Hy laat ʼn 20-jarige seun en 17-jarige dogter agter.

Maroela Media het Maandag berig die polisie ondersoek ʼn saak van moord.

“Die motor het steeds gebrand toe die polisie by die toneel opgedaag het,” het Mngomezulu toe gesê. “Die man se liggaam is in die kattebak aangetref nadat die brand geblus is. Sy hande was agter sy rug vasgebind.”

Mngomezulu het gesê die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

“Die oorsaak van die man se dood moet nog bepaal word. Die liggaam is onherkenbaar verbrand.”

Die polisie is 04:00 na die toneel in Kerkstraat ontbied. Hulle kon sover vasstel dat die motor aan ʼn chemiese maatskappy in Randburg behoort.

“Dit is onduidelik of die man ʼn werknemer by die maatskappy was. Sy identiteit sal deur verdere ondersoek bepaal word,” het Mngomezulu bygevoeg.

Die Johannesburgse nooddienste het vroeër gesê daar was niemand anders naby die voertuig toe hulle by die toneel opgedaag het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.