Lolly Jackson-moord: ‘Die waarheid gaan uitkom’

Owen Blumberg, George Louca se prokureur, buite die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Owen Blumberg, George Louca se prokureur, buite die hof. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die waarheid agter die moord op die Teazers-baas Lolly Jackson sal tydens die verhoor van George Louca van Ciprus, bekend word, het Louca se prokureur Maandag gesê.

“Dit handel nou oor die absolute waarheid,” het Owen Blumberg aan verslaggewers buite die Johannesburgse hooggeregshof, wat in Palm Ridge aan die Oos-Rand sit, gesê. “Hy [Louca] moet eerlik en reguit wees op elke vlak en hy is van voornemens om dit te doen.”

Blumberg het gesê sy kliënt se lot is aan die genade van die howe en regstelsel oorgelaat.

Louca, wat verhoor word onder die naam George Smith, word beskuldig van die moord op Jackson. Hy het in Februarie na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy sy finale appèl teen sy uitlewering van Ciprus verloor het. Hy het glo uit Suid-Afrika gevlug nadat Jackson op 3 Mei 2010 in ʼn huis aan die Oos-Rand doodgeskiet is.

Louca het glo kort ná die moord vir Joey Mabasa, voormalige hoof van die misdaadintelligensie-eenheid in Gauteng, geskakel en erken dat hy Jackson vermoor het.

Louca staan ook tereg op aanklagte van geldwassery en die besit van gesteelde goedere. Dié saak sal in ʼn streekshof aangehoor word.

City Press en EWN het Sondag berig dat hulle in besit is van ʼn beëdigde verklaring waarvolgens die Tsjeggiese sakeman Radovan Krejcir, die sneller getrek het. Volgens die berigte het die forensiese konsultant, Paul O’Sullivan, gesê het dat Jackson, volgens Louca, geskiet is ná ʼn “verbale en fisiese geskil oor geldwassery”.

Blumberg het geweier om kommentaar te lewer oor dié beweringe. “Ek wil nie kommentaar lewer oor wat in my kliënt se verklaring staan nie,” het hy gesê.

Hulle gaan aanvoer dat Louca nie vir Jackson vermoor het nie.

Hy het verslaggewers toegespreek kort nadat die saak Maandag tot 20 April uitgestel is sodat die staat vertoë deur Louca se regspan kan bestudeer. “Ons vertoë, wat teen die einde van die week ingehandig gaan word, sal verskeie verklarings bevat wat my kliënt oor die aangeleentheid en ander gebeure gemaak het.” Hy het gesê die verklarings het nie net betrekking op die aanklag van moord nie.

Blumberg het bevestig dat Louca se verklarings nie aan die Valke gemaak is nie, maar by ʼn ander eenheid van die polisie.

Louca was nie Maandag in die hof nie. Blumberg het nie geweet hoekom sy kliënt nie daar was nie. “Ek weet net so min soos julle,” het hy gesê. “Ek het verwag dat hy hier gaan wees. Hy was veronderstel om hier te wees, maar hy is nie. Ons verstaan dat die polisie, wat verantwoordelik is vir die ondersoek, probleme ondervind het om hom hier te kry,” het hy bygevoeg.

Velekhaya Mgobhozi, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die staat het genoeg bewyse om Louca vir moord te vervolg. Hy het gesê Louca se prokureurs het die staat verlede week in kennis gestel dat hulle vertoë gaan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.