Louis Heyns-moord: Derde verdagte skuldig bevind

Prof. Louis Heyns

Prof. Louis Heyns

Marthinus van der Walt is Dinsdag skuldig bevind aan die moord op dokter Louis Heyns, ʼn pediater en akademikus van Stellenbosch.

Regter André le Grange het die 35-jarige Marthinus skuldig bevind op moord en roof met verswarende omstandighede, maar het hom vrygespreek op ʼn aanklag van ontvoering.

Heyns het op 22 Mei 2013 verdwyn nadat hy omstreeks 20:20 by sy broer se huis weg is. Sy liggaam is op 30 Mei in ʼn vlak graf naby Gordonsbaai in die Strand opgespoor. Marthinus, sy broer, Sarel en Juan Liedeman (38), ʼn motorwerktuigkundige, is kort daarna vir Heyns se moord in hegtenis geneem.

Die Van der Walt-broers het Heyns glo gekaap toe hy by sy broer weg is. Hulle het hom beroof en vermoor en sy liggaam in die vlak graf begrawe. Die gekaapte voertuig is toe by Liedeman se perseel in Malmesbury afgelaai.

Beide Sarel en Liedeman het sedertdien ʼn pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Volgens Le Grange was Marthinus se weergawe van die gebeure nie oortuigend nie. Hy het gesê hoewel Marthinus erken hy het die dokter vermoor, het hy homself telkemale in sy getuienis weerspreek en verskeie leuens en stories opgemaak.

Vroeër in die verhoor het Marthinus getuig dat Heyns hom vir seksuele gunsies genader het. Hy het beweer Heyns het hom beledig en hy het sy humeur verloor. Marthinus het hom daarna geslaan, geskop en gewurg totdat Sarel hom van Heyns af getrek het.

Nadat hy Heyns met skoenveters vasgemaak het, het hy besef hy het nie meer ʼn hartklop nie. Hy het die liggaam daar gelaat en met Heyns se motor na Gordonsbaai gery waar hy probeer het om dit te verkoop. Hy is daarna terug na die moordtoneel en het die liggaam begrawe.

Le Grange het gesê Marthinus het die rol wat dwelms en alkohol in die moord gespeel het, oorbeklemtoon en het ten tyde van die moord presies geweet wat hy doen is verkeerd. Volgens Le Grange was die motief vir die moord om Heyns se motor te steel.

Eldale Swart (30), Heyns se dogter en Sharon Cling, ʼn kollega wat vir 22 jaar saam met Heyns gewerk het, het getuig ter verswaring van vonnis.

Andre Mouton, die familie se woordvoerder, het buite die hof gesê die familie hanteer die omstandighede goed, al is dit moeilik om die manier waarop Heyns dood is te aanvaar. Hy het Marthinus se skuldigbevinding “bittersoet” genoem en het gesê hy hoop hy sal lewenslange tronkstraf kry. Marthinus sal Donderdag gevonnis word.

Lees alle vorige berigte oor die saak op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

CHRISTA ·

Al kry hy lewenslange tronkstraf, sal hy oor 8 jaar weer vry wees!! Die vonnisse wat ons kriminele ontvang beteken NIKS!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.