ʼn Man is in hegtenis geneem nadat twee kleuters en hul ma tydens ʼn rooftog in Dobsonville, Soweto, met ʼn mes gesteek is.
“Ons het ʼn 33-jarige man in hegtenis geneem,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy sal Vrydag in die Protea-landdroshof verskyn.”
Die twee seuntjies, onderskeidelik twee en drie jaar oud, en hul 20-jarige ma is Dinsdagaand tydens ʼn rooftog in hul huis in Dobsonville x3 aangeval. Twee mans was glo betrokke.
Makhubela het gesê die polisie is op soek na die tweede verdagte.
Maroela Media het vroeër berig die tweejarige seuntjie is drie keer in sy kop gesteek en die driejarige het agt steekwonde gehad. Die ma is ook verskeie kere in haar linkerarm met die mes gesteek.
Die kleuters se 60-jarige ouma het ʼn sny op haar voorkop opgedoen tydens die rooftog. Die verdagtes het met elektroniese toestelle gevlug.