Muizenberg-brand: Meer as 2 000 brandbestryders

Foto: Stephen C Photography (via @stephencphotog, Twitter)

Brandbestryders in Noordhoek (Maart 2015) Foto: Stephen C Photography (via @stephencphotog, Twitter)

Meer as 2 000 persone is besig om ʼn brand te bestry wat oor die naweek in Muizenberg ontstaan het.

“Dit sluit 150 lede van die departement van omgewingsake se Working on Fire (WoF)-program in,” het Zolile Nqayi, woordvoerder van die departement, in ʼn verklaring gesê. “Altesaam 50 mense van Volunteer Wildfires Services en 250 WoF-brandbestryders is van ander provinsies ontbied om die plaaslike spanne te help.”

Altesaam 26 vliegtuie het al sedert Sondag aan die brandbestrydingspoging deelgeneem. “Elf helikopters, ses vastevlerkvliegtuie en nege waarnemers van Tulbagh, Porterville, Donkerhoek, Stellenbosch, Bredasdorp, Stilbaai, Newlands, Plettenbergbaai en Knysna is ontplooi om die 11 brande te bestry.” Altesaam 198 vlugure beloop reeds ʼn geraamde R2.4 miljoen.

Ongeveer 2 miljoen liter water is met 2 000 waterbomme oor die brand gestort.

Die helikopters wat gebruik is, is tans op bystand weens die rook en weersomstandighede, het JP Smith, burgemeesterskomiteelid van die stad Kaapstad, in ʼn verklaring gesê.

Nog ʼn brand het Woensdag in die Kaappunt-natuurreservaat uitgebreek.

Altesaam 13 eiendomme word hierdeur geraak. “Drie van die eiendomme is totaal verwoes waarvan twee in Constantia en een in Noordhoek.”

Boyesrylaan en Chapmanspiekpad bly gesluit vir verkeer.

Die stad se rampbestuursentrum het vroeër Woensdag gesê die reën in Kaapstad bring verligting. “As dit hard genoeg reën, is dit ʼn bonus vir ons. Maar as dit net liggies reën, help dit nie veel nie. Daar is baie min wind in die gebied,” het woordvoerder Charlotte Powell gesê. “Wanneer dit reën is sigbaarheid ʼn groot probleem vir die helikopters.”

Altesaam 500 mense is reeds sedert Sondag ontruim.

Die brandbestryders is steeds doenig in Laer Constantia Nek, bo Tokai, Clovelly, Vishoek, Kalkbaai, Houtbaai en Noordhoek.

Lees alle vorige berigte oor die bergbrand op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.