Nkandla-komitee vergader vir die eerste keer

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Pres. Jacob Zuma se woning in Nkandla, KwaZulu-Natal

Opposisiepartye het Donderdag versoek dat pres. Jacob Zuma en die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, voor die ad hoc-komitee moet verskyn wat Zuma se reaksie op haar Nkandla-verslag moet oorweeg.

Die spesiale komitee van 12 lede, het Donderdag vir die eerste keer vergader, twee weke nadat die komitee deur die parlement saamgestel is.

“Ek kan nie sien waarom enigiemand nie sou wou kom om op die bewerings teen hulle te reageer nie,” het Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, gesê. “Ons hoop dat mense gewillig sou wees om ʼn uitnodiging te aanvaar, maar hierdie komitee het die mag om enigiemand te dagvaar.”

Cedric Frolick, voorsitter van die Nasionale Vergadering, is as die voorsitter van die komitee aangewys. Die komitee moet sy taak voor 30 April afhandel. Die komitee sal glo egter eers Maandag weer bymekaar kom, en ʼn omvattende ondersoek oor Madonsela se bevindinge, is dus onwaarskynlik.

Madonsela het bevind dat Zuma en sy familie onregmatig voordeel getrek het uit die veiligheidsopgraderings ter waarde van R246 miljoen wat deur belastinggeld befonds is.

Zuma het slegs in ʼn enkelbladsy-dokument reageer op die verslag en aangedui dat hy wag vir die uitslag van die Spesiale Ondersoekeenheid. Die SOE het egter aangedui sy verslag sal eers lank ná die verkiesing beskikbaar wees.

Die ANC meerderheid wat op die komitee dien, het versoeke van die opposisie van die hand gewys dat hy Vrydag met die vergadering moet voortgaan. Die lede het aangedui hulle moet die naweek gebruik om Zuma se reaksie en Madonsela se verslag van 443 bladsye te bestudeer.

Zuma het Woensdag tydens ʼn verkiesingsveldtog in Mpumalanga Madonsela se bevinding, dat hy ruimskoots uit die opgraderings gebaat het, verwerp. Hy het die ondersteuners herinner dat ʼn interministeriële verslag hom vroeër onskuldig bevind het. “Nkandla het sy eie prosesse,” het Zuma gesê. “Sy het gesê daar was ‘onbehoorlike voordeel’… ek soek nog daarvoor.” -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

alet ·

Natuurlik sal sy kaders se hy het niks verkeerd gedoen want hoekom 7 ANC lede hoekom nie 2 nie want dan weet hulle die saak gaan vir hulle verlore wees. As n mens nie die waarheid kan praat kan hy nie die land regeer. Korup korup dit vier hoogdy in die reenboog land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.