NWU-verslag beïnvloed deur onlangse Puk-debakel, meen talle

Potch-320x227Die verslag van ‘n ondersoekpaneel oor die vordering wat die afgelope dekade by die Noordwes-universiteit (NWU) gemaak is, is waarskynlik negatief beïnvloed deur politiek en onlangse gebeure by die instelling.

Dr. Theuns Eloff, voormalige visekanselier van die NWU, sê daar hang ‘n vraagteken oor die integriteit van die verslag en hy beplan om ‘n verslag daaroor te skryf.

Die paneel het tot die slotsom gekom dat die NWU nie heeltemal daarin kon slaag om verdeling wat apartheid meegebring het, te oorkom nie, en dit ook nie reggekry het  om ‘n meer gelyke personeel- en studentekorps te bevorder nie.

Volgens Eloff was die doel met die verslag dat die paneel  die vraag moes beantwoord oor of die NWU ‘n gebalanseerde universiteit ten opsigte van leer en onderrig en navorsing is. Dit is volgens hom nie met die verslag bereik nie.

Volgens die paneel onder leiding van prof. Frans van Vugt, president van die Europese sentrum vir strategiese bestuur van universiteite, het die NWU nie heeltemal daarin geslaag om ou apartheidsverdelings te oorkom nie en moet meer klem geplaas word op die ontwikkeling van ‘n geïntegreerde NWU-kultuur en -identiteit.

Aldus die paneel het die NWU het ook nog nie ten volle sy administratiewe en akademiese kapasiteit gebou nie.

Die paneel beveel aan dat studente-toegang en sosiale integrasie verbeter moet word, aangesien die Puk-kampus steeds oorwegend wit studente het en die Mafikeng-kampus swart studente.

Volgens die paneel moet die NWU sy taalbeleid herevalueer en Engels saam met Afrikaans die taal van kommunikasie en onderrig op die Puk-kampus maak.

Voorts moet die universiteit ‘n proaktiewe menslike hulpbron-beleid ontwikkel om personeel te werf en te behou in areas waar beduidende rasse- en geslagsongelykhede is.

Die bevindings van die paneel was egter nie net negatief nie en die NWU  het erkenning gekry vir sy opbou van navorsingskapasiteit en van die kundigheid in tegnologie-oordrag, sy suksesvolle bevordering van plaaslike en streeksontwikkeling, sy gemeenskapsverbintenis en die finansiële stabiliteit by die instelling.

Die universiteit het by navraag gesê die raad asook die institusionele bestuur het kennis van die verslag geneem. Dit is nog nie bespreek nie en ‘n konsultasieproses sal nou met interne en eksterne belanghebbendes gevolg word ten einde die strategiese agenda en plan vir die universiteit te ontwikkel.

Die motivering en aanvra van die verslag was om na tien jaar ‘n retrospektiewe evaluering te verkry.

Volgens die NWU is die institusionele bestuur daartoe verbind om die uitdagings soos in die verslag geïdentifiseer is, te aanvaar, en sal hulle besluit watter aanbevelings vir die universiteit werkbaar is.

Gwebs Qonde, direkteur-generaal van van die department van hoëronderwys en -opleiding, het gesê hy het die verslag ontvang, maar nog nie tyd gehad om dit te bestudeer nie.

“Dit sal onregverdig wees om my nou oor die bevindings en aanbevelings uit te spreek.”

Met verwysing na die aanbeveling dat Engels en Afrikaans onderrigmediums op die Puk-kampus moet word, het Qonde gese dit is ‘n kwessie waarna die raad moet kyk.

Eloff het gese dit is onbegryplik hoe die paneel tot die slotsom gekom het dat die bestuursmodel die afgelope tien jaar gewerk het, maar dat die goeie bestuursmissie nie bereik is nie. Dit dui op ‘n teenstrydigheid.

Hy het daarop gewys dat die NWU een van die instellings met die beste sukseskoerse is terwyl die navorsingskurwe gestyg het.

“Dit is ook duidelik dat die paneel glad nie die dinamika van taal in Suid-Afrika verstaan nie. Die Puk-kampus is een van twee uit 38 universiteitskampusse waar ‘n student nog voorgraads ‘n kwalifikasie in Afrikaans kan behaal.

“Dit lyk eerder of die paneel wil hê dit moet ter wille van sogenaamde transformasie en toegang op die altaar geoffer word.”

Eloff meen hoewel die verslag ondertone van politiek en ‘n transformasie-ideologie het en klaarblyklik deur eksterne faktore gekleur geraak het, was dit vir die universiteit ‘n nuttige oefening.

Prof. Rolf Stumpf, voormalige rektor van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit en deesdae konsultant in die hoëronderwyssektor, het gese die NWU is een van die suksesvolste instellings wat deur ‘n samesmeltingsproses is en dit is sonder twyfel een van die universiteite wat groot vordering op die gebied van leer en onderrig en navorsing gemaak het.

“Sosiale transformasie was dalk nie so vinnig soos wat ander mense dit wou sien gebeur nie, maar die NWU is vandag ‘n suksesvolle en goeie universiteit.”

Stumpf meen daar moet begrip wees vir die geografiese ligging van kampusse en dat die wisselwerking tussen kampusse en verkeer tussen studente en akademici weens baie lang afstande altyd moeilik sal wees.

Hy meen ook ‘n universiteit is verbind aan sy konstituerende gemeenskap en daar is sonder twyfel ‘n wisselwerking tussen ‘n instelling en sy gemeenskap.

Hy meen ook ‘n instelling kan nie radikaal verander as die omgewing waarbinne dit funksioneer dieselfde bly nie. “Dis nie net ‘n gebou wat jy iewers gaan neerplak nie. Dit is binne ‘n gemeenskap en die gemeenskap moet ‘n positiewe omwenteling binne die universiteit en andersom teweeg bring.”

Terwyl die paneel weinig melding oor die sukses van tolking op die Puk-kampus gemaak het, het Stumpf gese hy is ‘n groot bewonderaar van die model en bestempel dit as een van die mees suksesvolle inisiatiewe in onderrig.

Stumpf het die NWU se bestuursmodel ‘n paar jaar gelede geëvalueer en meen dit het toe groot ondersteuning binne die universiteit op al die kampusse geniet. En dit was toe die beste model vir die universiteit se ontwikkeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Redelinghuys ·

Graag wil ek net ook my persoonlike mening hieroor lug. Die NWU word nou gedwing om transformasie te bespoedig. Verstaan asb dat ek nie teen transformasie is nie maar hulle wil dit druk. Kunsmatige transformasie is ook nie gesond nie. Die Potch kampus is mos nou al vir jare hoofsaaklik afrikaans en ook dan tradisioneel een van die vestings vir afrikaans. Niemand meng in met Vaal Kampus of Mahikeng kampus nie. Op daardie twee kampusse is daar meerendeels engels sprekendes. Dit is vir my dan net duidelik dat dit weer ‘n poging is om afrikaans te onderdruk. Niemand doen enigiets (praat van politici en media) om afrikaans weer op daardie twee kampusse te bevorder nie. Die NWU doen tans alles in hulle vermoeë om engels te akkomodeer op die Potch Kampus. Kyk na die vertaaldienste watgeruime tyd gelede gestig is en wat goed werk op die kampus. Die NWU het selfs tydjie gelede hiervoor ‘n prys gekry. ‘n Sekere afrikaanse oggendblad het ook so tydjie gelede die NWU aangeval. Die beste van alles is dat dit ons mense is. Hoe werk dit? Moet ons as afrikaners nie begin saamstaan en al hierdie verskille wat ons het begrawe en vir een doel staan nie?
Wat van die “groet” van UJ wat so tydjie gelede ook in die nuus was na die debakel op die PUk? Die afrikaanse oggendbad het nie veel daarvan gesê nie? Dit is dan net vir my duidelik dat hierdie persoonlike vendetta’s en aanvalle teen die Puk is. Pasop vir eenogigheid.
Ek is trots Suid Afrikaans en ruil hierde land asook die plek waar ek werk vir niks nie. Kom ons almal werk saam om eerder afrikaans nie te laat verlore gaan waar ons werk nie. Wys my net een plek waar daar gedwonge transformasie vir taal was wat steeds so effektief gewerk het voor die proses.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.