Pillay dalk weer geskors

sars logo 2Ivan Pillay, adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), staar weer skorsing in die gesig, enkele dae nadat sy vorige skorsing tersyde gestel is, berig die Sunday Times.

Volgens die berig het Pillay Vrydag ‘n skorsingskennisgewing ontvang waarvolgens hy tot 12 Januarie het om redes aan te voer oor hoekom hy nie geskors moet word nie. Dit nadat die arbeidshof in Johannesburg Donderdag beveel het dat Pillay se aanvanklike skorsing tersyde gestel moet word.

Pillay is deur Tom Moyane, hoof van die SAID, geskors nadat hy ʼn paneel aangestel het om bewerings te ondersoek oor ʼn spesialeprojekte-eenheid se beweerde onwettige aktiwiteite.

Volgens die Sunday Times se berig moet Pillay geskors word aangesien daar die gevaar is dat hy met bewyse kan peuter tydens die ondersoek, iets wat hy al glo voorheen gedoen het.

Pillay word daarvan beskuldig dat hy ʼn sleutelrol gespeel het in die oprig van ʼn geheime intelligensie-eenheid binne die SAID ondanks die feit dat hy geweet het dit is ongrondwetlik.

Hy het die SAID glo in oneer gebring deur die “skelm gedrag van diegene wat aangestel is om onwettige bedrywighede uit te voer te magtig, of versuim om dit te verhoed”.

Volgens die berig het Pillay op bedrieglike wyse vroeë aftrede misbruik vir finansiële gewin en verkwistende en nuttelose uitgawes aangegaan.

Pillay en Peter Richer, groephoof van risiko en beplanning, het die arbeidshof genader nadat hulle op 5 Desember deur Moyane geskors is. Richer het egter ʼn skikking met die SAID bereik waarna sy skorsing tersyde gestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.