Polisie-verslag: ‘Wolf is skaapwagter’

Voorblad van die verslag

Voorblad van die verslag

AfriForum het Woensdag die Broken Blue Line-verslag bekend gestel wat 100 voorbeelde bevat van geweldsmisdade waarby Suid-Afrikaanse polisiebeamptes sedert 2011 betrokke was. Dié verslag is deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIR) saamgestel.

Die 100 voorvalle waarop daar in die verslag gefokus word:

  • 32 voorvalle wat met moord en poging tot moord verband hou
  • 22 voorvalle wat met gewapende roof verband hou
  • 26 voorvalle wat met verkragting verband hou
  • 20 voorvalle wat ander misdade soos marteling, diefstal en inbrake verband hou

AfriForum meen dat die nasionale polisiekommissaris, generaal Riah Phiyega, een van die hoofredes vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se agteruitgang is.

“Is dit moontlik dat ongeveer 1 uit elke 100 polisiebeamptes ʼn kriminele rekord het? Die Broken Blue Line-verslag sê presies waarom die polisie misluk in die beveiliging van ons land se mense,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapveiligheid, gesê.

Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SAIR, het gesê dié projek was een van die mees ontstellende wat sy organisasie nog onderneem het. “Jy sou verwag dat die polisie gemeenskappe beskerm deur kriminele elemente te infiltreer. In ons land is daar baie bewyse dat kriminele elemente die polisie geïnfiltreer het,” het Cronjé gesê.

Die verslag het onder meer die volgende bevind:

  • Daar is omvangryke bewyse dat die polisie betrokke is by ernstige en gewelddadige misdade soos verkragting, moord en gewapende roof
  • Dit is nie “geïsoleerde voorvalle” nie maar ʼn “gedragspatroon”
  • Die polisie se bestuur poog om die probleem te hanteer, maar met beperkte sukses
  • Die polisie is nou moontlik deur swaar kriminele elemente geïnfiltreer
  • Polisiebeamptes buit hul amptelike status en toerusting uit om misdade te pleeg en maak staat op hul status om arrestasie en vervolging te vermy.
  • Die vlakke van gewelddadige misdaad in Suid-Afrika sal nie omdraai as ‘wolf die skaapwagter” bly nie
  • Dit is dikwels met goeie rede dat die publiek die polisie vrees, veral met betrekking tot seksuele geweld en verkragting wat deur beamptes teen weerlose vroue gepleeg word
  • Dit is waarskynlik dat armes sowel as die middelklas toenemende die polisie sal omseil en kyk vir ander maniere om hulself en hul gemeenskappe te beskerm

AfriForum het die volgende beleidsvoorstelle en veranderinge aanbeveel:

  • Generaal Phiyega moet vervang word met ʼn bevoegde persoon;
  • die minister van polisie, Nkosinathi Nhleko, moet vervang word;
  • deursigtigheid moet herstel word, die polisie moet weer gesien word as ʼn eerlike instelling;
  • die polisie se politieke aanstellings moet beëindig word, sodat dienslewering prioriteit kan geniet;
  • die standaard van opleiding moet verhoog;
  • spesialis-eenhede moet herstel word, sonder politieke inmenging; en
  • misdadige elemente moet verwyder word.

Die polisie het hom intussen van die verslag gedistansieer. Volgens lt.genl. Solomon Makgale, nasionale woordvoerder van die polisie, het Phiyega vroeër in Januarie met AfriForum en die SAIR vergader oor die verslag. Sy het dit toe glo duidelik gemaak dat die metodologie wat in die verslag gebruik is “fundamenteel gebrekkig” is en dat die SAPD nooit by die verslag betrek is nie hoewel die verslag oor die organisasie is.

“Die verslag bevat gevaarlike veralgemenings wat blykbaar meestal gebaseer is op berigte in die media, onderhoude met joernaliste en ‘n vorm van betrokkenheid van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod),” het Makgale gesê.

Klik hier vir die volledige verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ladybug ·

Ons weet al hierdie dinge … daar moet druk op die regering van alle kante geplaas word om ontslae te raak van hierdie gesigte in die polisie wat net daar is om die stoel warm te sit!

As JZ “onskludig” bevind kan word aan hordes aanklagte van bedrog, kan Cele ook terugkom!

Danie ·

Phiyega sal glo dat die metodologie gebrekkig is net soos die skaap oppad slagpale toe sal glo dat hy nie geslag behoort te word nie…

Ian ·

Die manier om hierdie probleem op te los is om mense aan te stel wat die konsep van “capabilities-based planning” verstaan. Nee, ek gaan nie nou daarop ingaan nie – Google dit. Die militere omgewing verstaan dit goed. Ek weet ek mors my tyd, maar as die regering nie hierdie konsep gaan kop nie [sic] is ons basies verlore. Die hele waardestelsel van n meritokrasie is wat hier ontbreek.

ditto ·

Jis “Ian”, smaak my (sic) jy’s ‘n slim ou jong…. ha ha ha ha ….
Verduidelik asseblief tog jou “meritokrasie waardestelsel” aan ons eenvoudiges toe !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.