ʼn Reeksverkragter is tot agt keer lewenslange tronkstraf gevonnis, het die polisie gesê.
Kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê Klaas Mbiza is in die Vereeniging-streekshof lewenslange tronkstraf opgelê vir elk van die agt verkragtings. Mbiza is tot ʼn verdere 120 jaar tronkstraf gevonnis op ses aanklagte van roof.
Mbiza is skuldig bevind aan die misdade wat in Vlakfontein, De Deur en Lenasia gepleeg is. Mbiza het vroue wat alleen geloop het van agter af gegryp en verkrag. Hy het hulle ook beroof.
Die misdade is tussen 2010 en 2012 gepleeg. Mbiza is op 9 April verlede jaar in Vereeniging in hegtenis geneem.