SAUK ontken dat hy Afrikaans skrap

saukDie SAUK het Donderdag ontken dat hy amper al sy Afrikaanse programme op SABC2 permanent na SABC3 gaan skuif.

‘n Artikel op die webtuiste Channel24 beweer dat die Afrikaanse programme gaan skuif weens ‘n geveg by die SAUK oor die taal van programme wat “onvolhoubaar geword” het vir die openbare uitsaaier se SABC2-kanaal.

“Die Kaaps-gebaseerde en self-geproklameerde TV-kritikus mnr Thinus Ferreira se artikel is twyfelagtig en word deur die SAUK beskou as ‘n poging om verwarring te veroorsaak en tot ‘n mate rasse- en taalkundige verdeeldheid te saai,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, in ‘n verklaring gesê.

Hy sê die uitsaaier het nie enige taal gemarginaliseer nie en dat hulle dit ook nie in die toekoms sal doen nie. Volgens Kganyago word die SAUK deur die Uitsaaiwet voorgeskryf om te verseker dat alle tale gelyke behandeling ontvang.

Ferreira voer in sy artikel aan dat die Afrikaanse nuusbulletin wat gewoonweg om 19:00 op SABC2 uitgesaai word permanent na SABC3 geskuif sal word sodra die Sokkerwêreldbeker tot ‘n einde kom. “Dit sal ook die eerste keer in 38 jaar wees dat daar geen Afrikaanse TV-drama op SABC2 (die voormalige TV1) sal wees sedert televisie in Suid-Afrika in 1976 begin het nie,” skryf Ferreira.

Kganyago sê die uitsaaier het op 29 Mei bekend gemaak hoe sy programskedule geaffekteer sal word weens de Sokkerwêreldbeker. “Die Xitsonga, SiSwati, IsiNdebele en Venda nuusbulletins is ook van SABC2 af geskuif maar dit word nie in Ferreira se artikel genoem nie.”

“Ons glo dat alle Suid-Afrikaners ewe belangrik is, en om die rede is mnr. Ferreira se uitlating dat ‘Die Nuus om 7’ ‘n ‘hekkie’ vir SABC2 geword het, onvanpas en ongevraagd.”

Kganyago sê die twee van uitsaaier se gewildste programme, Leihlo la Sechaba en Generations, is ook geskuif weens die sokker. “Hierdie week sal die gewildste aktualiteitsprogram op SABC2, Leihlo la Sechaba, nie uitgesaai word nie en dit is nogal ontstellend dat mnr. Ferreira net die Afrikaanse programme uitsonder.”

“Een van ons vlagskip-programme, Generations, is van SABC1 na SABC2 verskuif. As Ferreira se argument water gedra het sou ons miljoene klagtes gesien en aangeteken het van Generations se kykers,” het Kganyago gesê.

Kganyago sê hy is verbaas dat dit slegs ‘n kwessie is wanneer Afrikaanse programme geraak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris ·

Ek wonder hoekom die SAUK dink dit is belangrik dat Ferreira “Kaaps-gebaseer” is en “dit slegs ‘n kwessie is wanneer Afrikaanse programme geraak word”.

Speel Kganyago van die SAUK indirek die rassekaart en probeer hy Afrikaanssprekendes teen mekaar opsit?!

Gerhard Bezuidenhout ·

Sodra die net nouer om hul span pluk hulle die rassekaart uit.Snaaks dat apartheid nie die skuld kry nie .Kganyago wees n man en erken dat julle Afrikaans marganiliseer. In 20 jaar het julle alles wat gewek het opgevoeter.Klomp termiete.

Tokkie ·

Hi Gerhard

Ek hou van die naam termiet – sal dit nou gebruik ipv die kulturele woord

Rieks ·

Wens hulle wil die TV lisensies toepas op die kanale wat mens deesdae kyk – en raai wat is die inkomste.. R0!!! Die grootste klomp bollie wat op die normale kanale is – ek sal veel eerder in die toekoms boek lees as om na daardie gemors te kyk! SABC/SAUK julle is pateties!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.