Slegs Engels in onderwysdepartement se voorgestelde taalbeleid

Argieffoto

Argieffoto

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die voorgestelde taalbeleid van haar departement bekend gemaak.

Die publiek het tot 1 Mei geleentheid om op dié voorstelle te reageer. Klik hier om die volledige taalbeleid te lees.

Volgens die minister beplan die departement om Engels as die amptelike taal van kommunikasie te gebruik vir inter- en intraregeringskommunikasie; kommunikasie aan personeellede; geskrewe en mondelingse openbare kommunikasie; openbarekonsultasieprosesse; en amptelike kennisgewings via webwerwe, vorms, advertensies en handelsmerkmateriaal op geboue. “Indien die skrywes of dokumente in enige ander amptelike taal versoek word, sal die departement hierdie diens verskaf,” het sy gesê.

Volgens Motshekga moet die departement die praktiese uitvoerbaarheid en koste-doeltreffendheid in berekening bring indien alle dokumente en skrywes in al die amptelike tale vertaal moet word.

Sy het gesê die departement sal ook Engels as amptelike taal van kommunikasie gebruik vir internasionale kommunikasie, en/of die verkose taal van die betrokke land.

Kurrikulum-dokumente sal steeds in al elf tale aan skole beskikbaar gemaak word en braille en gebaretaal sal gebruik word indien en waar nodig.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê volgens haar mening is die beleid ʼn vergryp. “In die aanhef sê die minister in effek slegs Engels sal as die administratiewe en kommunikasietaal van die departement gebruik word vanuit koste en praktiese oorwegings. Die wet maak voorsiening vir een van twee roetes – óf dat drie amptelike tale gebruik word, óf dat die minister van kuns en kultuur gevra word dat ʼn departement van die verpligting gevrywaar word en dat die vrywaring na behore gemotiveer en soms hersien word. Die minister van basiese onderrig volg dus nou ʼn derde roete. Geen aansoek vir vrywaring nie en geen poging om nou of in die toekoms ander tale buiten Engels te akkommodeer nie.”

AfriForum het reeds sy kommentaar aan die departement gestuur.

“Die desentralisering wat provinsies toelaat om eie taalkeuses uit te oefen, is lofwaardig maar gaan dit in die praktyk geskied as die nasionale departement hierdie toon inslaan?” wou Bailey weet. “Indien die nasionale departement nie minstens van drie tale gebruik maak, soos die Grondwet vereis nie, waarom sal provinsiale departemente dit dan doen?”

Volgens haar is dit uiters ironies dat die enigste openbare kennisgewing wat die departement skynbaar in al 11 tale gaan beskikbaar stel, die een sal wees wat sê dat die meerderheid dienste slegs in Engels beskikbaar gaan wees, tensy anders versoek en dan ook slegs indien dit vir hulle moontlik is om aan die versoek gehoor te gee. “Daar rus geen verpligting op hulle nie,” het sy gesê.

Bailey meen die inligting oor opleiding en maatreëls om respek vir diversiteit en verskillende tale te kweek is só vaag dat dit nie veel help of veel van ʼn verpligting op die departement plaas nie. “Dat onderwysmateriaal vir al 11 tale voorsien moet word, is nie iets wat geprys hoef te word nie, dis bloot die uitvoer van hulle plig in terme van die grondwet.”

Sy het egter bygevoeg dit is kredietwaardig dat die departement ʼn taaleenheid gaan vestig. “Min departemente het nog tot die stap oorgegaan,” het sy bygevoeg.

AfriForum het homself beskikbaar gestel om die departement by te staan om die beleid te wysig om al seker te maak dat al elf tale en taalregte in die algemeen bevorder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Oh Angie, you want to make us Angry. You want to use the language of the people who colonized just about the WHOLE of Africa. Rather try to better the education system.

Peet Schabort ·

Maroela, kom ek probeer weer: “Angie, dis darem wonderlik om die ‘publiek’ kans te gee om te reageer. Dis mos hoe die demokrasie werk om die minderheid kans te gee om deel te neem aan hulle eie ondergang”.
Spandeer eerder meer tyd om die onderwys reg te ruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.