Steun vir groen-betoging in Johannesburg

Foto: Argief

Foto: Argief

Talle mense het Sondag by die Emmarentiadam in Johannesburg bymekaar gekom met wit T-hemde en groen harte op hul gesigte geverf om deel te neem aan ʼn wêreldwye betoging vir omgewingsvriendelike energie.

Die geleentheid is deur die burgerlike organisasie Avaaz en die klimaatregtegroep 350.org georganiseer.  Dit was een van honderde wat wêreldwyd gehou is in aanloop tot die Verenigde Nasies se klimaatsveranderingsberaad wat Dinsdag plaasvind. Omgewingsaktiviste doen ʼn beroep op wêreldleiers om 100%  skoon energie te gebruik om ʼn moontlike klimaatsveranderingskrisis te vermy.

Die betogers het as deel van die geleentheid in die vorm van ʼn hart gestaan terwyl ʼn radiobeheerde helikopter foto’s geneem het. Hierdie foto’s gaan saam met foto’s van die ander soortgelyke geleenthede by die klimaatberaad in New York vertoon word.

ʼn Spanleier van die 350.org-groep, Ferrial Adam, het aan die skare gesê dat almal hulle hul deel kan doen om klimaatsverandering te voorkom. “Ons moet meer betrokke wees. Ons moet druk plaas op ons plaaslike raadslede wat dit weer sal oordra aan die provinsiale en nasionale leiers,” het  Adam gesê. Sy het verder aangevoer dat hidrobreking die slegste ding is wat gedoen kan word in ʼn water-skaars land soos Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jean ·

Dis nou al jare na Climategate. Hoe is dit dat daar nogsteeds mense is wat aangaan oor klimaatsverandering?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.