Swartwater-plaasmoord: Boer lewend in waterkuil met krokodille gegooi

Riëtte, haar pa,  Louis-John Botha, en Fosa Fourie, tydens Riëtte se troue op 13 Desember. Foto: Verskaf

Riëtte, haar pa, Louis-John Botha, en Rosa Fourie, tydens Riëtte se troue op 13 Desember. Foto: Verskaf

Vier mans verskyn Maandag in die hof vir die moord op dr. Louis-John Botha (64), ʼn wildboer van Swartwater in Limpopo, dieselfde dag as sy beplande roudiens.

Kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê die vier verdagtes is Vrydag tussen 05:00 en 06:00 in die Groblersdal-omgewing in hegtenis geneem.

“ʼn Vuurwapen en ʼn selfoon wat tydens die aanval op Botha gesteel is, is in die verdagtes se besit gevind,” het Otto gesê. Die verdagtes is tussen 22 en 27 jaar oud. Hulle moet Maandag in die Mokopane-landdroshof verskyn op aanklag van moord.

Botha se dogter, Riëtte (32), het aan Maroela Media gesê sy is “bitter bly” die verdagtes is vasgetrek. Sy is vol lof vir die polisie en het gesê die forensiese span het “briljante werk” verrig.

Riëtte het Vrydag gesê die nadoodse ondersoek het bepaal dat ʼn harde hou aan haar pa se kop moontlik tot sy dood gelei het. “Die verdagtes het hom in sy huis ingewag. Hy is vasgebind en verskeie kere met ʼn graaf en stokke geslaan. Hulle het hom in die kuil gegooi en vir dood agtergelaat.”

Volgens Riëtte was haar pa vermoedelik nog lewend toe hy in die water gegooi is en het vasgebind na die oewer probeer swem voor hy dood is. Krokodille het ook aan sy liggaam geëet. Kol. Otto het bevestig dat Botha dood is weens die hou aan sy kop.

Een van die verdagtes is glo ʼn Zimbabwiër wat gehuur is om voorheen ʼn heining op Botha se plaas te span.

Maroela Media het vroeër berig Botha se liggaam is Maandag in ʼn waterkuil naby sy plaashuis gevind. Hy was die naweek alleen op sy plaas. Sy vriendin, Rosa Fourie (56), wat saam met hom op die plaas woon, was die naweek in Pretoria. Sy en Botha se ma, Eva (85), wat ook op ʼn plaas in die omgewing woon, en vriende by wie hy Saterdag sou gaan kuier het, het bekommerd geraak nadat hulle hom Saterdag nie in die hande kon kry nie.

Hulle het Sondag nog niks van hom gehoor nie, en dus Botha se bure gebel en gevra om te gaan ondersoek instel. Toe die buurman Sondag by Botha se huis opgedaag het, het die huis oopgestaan. Daar was geen teken van Botha nie. Die kluis het oopgestaan en daar was bloed in die huis.

ʼn Soektog na Botha is van stapel gestuur en sy liggaam is vroeg Maandagoggend in ʼn waterkuil, sowat 200 m ver van sy huis af, opgespoor.

Botha se roudiens vind Maandag om 11:00 by die NG kerk in Swartwater plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

martin cilliers ·

baie dankie vir goeie detail nuus te lees dit is sommer puik en professioneel goed gedaan!

Janine N ·

Hemel, hoe afskuwelik! Innige simpatie aan elkeen wat agterbly en deur hierdie daad moet werk!

Monja ·

Sulke mooi mense :( Innige simpatie aan Riette, Rosa, Eva & ander familie & vriende.

Surene Oelofse ·

Hulle moet statistieke bekend maak oor die herkoms van die mense wat die boere om die lewe bring..al hoe meer buitelanders betrokke..die lot kom busvragte oor die grens, of loop net doodeenvoudig oor..ons grensposte is net a bedrogspul!

Moeggepraat ·

Ek dink die meeste mense is maar net broekbewe bang om te vra: Hoe los ons die moord ding op in die land: defensief of offensief? My vraag is eintlik baie eenvoudig want as dit my kind was so ek nie eers debat gaan hou vir weke lank en wonde of ek bang is of nie.

johan ·

Absoluut barbaars! Of hy dood was toe hy ingegooi was of nie, absoluut barbaars! Here, tree in !!!

Daniela ·

Dis skokkend as jy kyk na al die moorde op plaasboere. Waar gaan dit eindig.

Enki Ruthven ·

Plaas moorde gaan aanhou eskaleer totdat ons almal wakker skrik, ons bewapen en skiet met die doel om dood te skiet. Wapens in ‘n kluis help absoluut NIKS! Dra dit by jou en gebruik dit sonder twyfel om jouself en ander te verdedig. Ons leef in oorlog toestande en moet as sulks optree. Ongelukkig sal daar nie hulp van “bo af” kom nie, dit is ons eie verantwoordelikheid!

AdrianaStuijt ·

Die vier varke wat die grusame ‘glo’ daad gedoen het, het in Potgietersrus hof verskyn en die saak is uitgestel soos altyd. Dit val op dat daar geen nuusmedia aanwesig was van die ‘hoofstroom’ nie. Die plaaslike Noordelike Nuus het ‘n foto van die vier sadistiese krimineles geneem buite die hof. Hulle het glimlaggend geposeer. Ek dink dis belangrik dat mense weet hoe sulke demoniese persone lyk wat dit kan regkry om ‘glo’ vir Dr Botha oor sy kop te slaan sodat hy baie gebloei het, hom aan sy hande vasgebind het en toe aan die krokodille gevoer het. ‘n Mens wonder of hulle staan en kyk het terwyl die arme Dr Botha nog geprobeer het om die wal te bereik en uit te klim sodat die krokodille hom nie sou vang nie… Dit is vir my ongelooflik dat die grulike daad geen internasionale aandag kry in die nuusmedia nie. As dit ‘n Afrikaner was wat ‘n swartman so doodgemaak het, sou die opwinding en ‘woede’ universeel wees. Hulle foto staan op die argief http://www.censorbugbear.org/farmitracker/reports/view/3302

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.