Twee kinders is Saterdagaand dood en twee is kritiek beseer in ʼn ongeluk in Eldoradopark, Johannesburg.
Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê twee motors het mekaar in Mainweg getref.
“Twee van die kinders, vermoedelik jonger as 10 jaar, was in een van die voertuie vasgekeer,” het Bodasing gesê. “Hulle het reeds aan hul beserings beswyk voor paramedici by die toneel opgedaag het.”
ʼn 12-jarige kind en ʼn tweejarige kind het elk kritieke beserings opgedoen. “Hulle is na die hospitaal geneem,” het sy bygevoeg.
Drie ander persone, waaronder die bestuurders van die motors, is ook op die toneel behandel vir geringe tot ernstige beserings en is na die hospitaal geneem.
Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie. Owerhede stel ondersoek in.