Twee vas oor skending van Louis Botha-beeld

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Twee mans, vermoedelik lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), is in hegtenis geneem vir die skending van die Louis Botha-standbeeld in Kaapstad.

ʼn Polisiewoordvoerder van die Kaapstadse sentrale polisiestasie het aan ANA bevestig dat twee mans tans in aanhouding is en ʼn klag van saakbeskadiging aanhangig gemaak is, maar het gevra dat sy naam nie genoem word nie. “Hulle is in die stad in hegtenis geneem. Hulle is in hul vroeë twintigerjare en het EFF-barette gedra,” het hy gesê.

Die Louis Botha-standbeeld is een van talle beelde wat oor die afgelope paar dae geskend is. Dit volg nadat die EFF sy lede aangemoedig het om standbeelde van “apartheidsikone” te vernietig.

Die EFF het nie amptelik verantwoordelikheid vir die skending van die Louis Botha-standbeeld aanvaar nie. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het egter Donderdag ʼn foto van die standbeeld op Twitter gedeel met die woorde “Louis Botha must go”.

Intussen het die Solidariteit Beweging Woensdag ’n aanmaningskrywe aan die EFF gerig waarin geëis word dat dié party Donderdag voor 15:00 onderneem om onmiddellik enige aanhitsing te staak om standbeelde te vernietig of te beskadig. Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gesê indien die EFF nie hierdie onderneming gee nie, sal die beweging die hof dringend nader om ’n interdik te bekom.

“Die EFF-leierskap se aanhitsing om standbeelde af te breek, is ’n misdaad en onverantwoordelik. Die Solidariteit Beweging roep die EFF tot orde en sal toesien dat verdere aanhitsing verbied word, selfs al sou dit beteken dat ons dringende regsaksie moet neem,” het Buys gesê.

Buys het verder bevestig dat die Solidariteit Beweging ’n opbouende debat oor die geskiedenis van die Afrikaner en die standbeeldkwessie sal verwelkom. “Ons is verbind tot die bewys van wedersydse respek en erkenning en verwag dieselfde van alle groepe in Suid-Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

david ras ·

Dis nou hier waar ek wens ons wetgewing was bietjie anders ! Sulkes moet iets soos die Yanks se “chain gangs” ervaar–Oranje oorpak, ysterbal aan die voet, skoffel en graaf in die hand in die warm Afrika son langs een van ons groot paaie. Werk vir ‘n bord kos vanaand ! So vyf jaar of so behoort die gedagtes te suiwer of hoe?

Nina ·

Solidariteit, hoekom wil julle NOU skielik vinger in die pastei druk? Dis dan rassisties wanneer ons opstaan teen die dinge?

Chrivago ·

Buys, jy gaan lank wag! En ‘n “opbouende debat” gaan jou niks in die sak bring nie want die ander partye weet nie wat dit is nie.

alex ·

Diegene wat hul Christenskap uitleef glo aan leef en laat leef. Maar hoe ver moet ons nou nog agteroor buig om minderwaardigheidskomplekse te akkommodeer sonder om die groot wet van naasteliefde te oortree? Ons ken nie die antwoord nie so gebed is al wat oorbly.

scalla ·

Ketting hul vas aan die standbeeld en laat hul self die gemors skoonmaak wat hul gedoen het op hul eie koste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.