Uitlanders se winkels in Limpopo geplunder

Argieffoto Foto: enca.com

Argieffoto Foto: enca.com

Uitlanders in Ga-Sekgopo, oos van Polokwane in Limpopo, moes hul winkels verlaat nadat plaaslike inwoners glo op hulle toegeslaan het.

Die geweld het begin toe ʼn uitlander, wat ʼn winkel in die gebied besit, glo betrap is met ʼn selfoon wat aan ʼn man behoort het wat drie weke gelede vermoor is. Inwoners dring daarop aan om te bepaal hoe die man die selfoon in die hande gekry het.

Volgens die polisie het een van die moordenaars die selfoon aan die uitlander gegee, maar hulle weet nie wie dit aan hom verkoop het en of hulle dit vir hom gegee het om te herstel nie.

Een verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord en nog ʼn persoon het homself Sondag aan die polisie oorgegee.

Gewelddadige betogings het Sondag begin en uitlanders is uit 11 nedersettings in Sekgopo gedwing. Somaliërs wat winkels in die gebied besit het gesê hulle leef in vrees, aangesien plaaslike inwoners gedreig het om hulle lewend aan die brand te steek.

Een van die winkeliers het gesê hy het al sy voorraad verloor en sal nie weer die wins kan verhaal wat hy tydens die plundery verloor het nie. “Ons het ons voorraad, kruideniersware, klere en boumateriaal verloor,” het hy gesê.

Ander eienaars is bekommerd dat hulle gaan moet boet vir die misdade van ander uitlanders. “Dit is jammer, want ons is nie eers deel van hierdie selfoonskandaal nie, maar omdat ons uitlanders is, word ons ook ingesluit. Ons bly al jare lank in hierdie gemeenskap. Ons was ʼn familie, ons was deel van hulle.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie patrolleer die gebied. “Die situasie is nou kalm en ʼn saak van openbare geweld word ondersoek,” het hy gesê.

Ngoepe het gesê die eerste verdagte is kort na die moord in hegtenis geneem en is vrygelaat op borgtog van R1 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dave ·

Vreemdelingehaat mag swart-Suid-Afrika se ondersteuning uit Afrika verminder.

Ghost ·

Borgtog van R1000 virmoord. Dit is belaglik. Wat is die kanse dat hy weer by die hof gaan opdaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.