US bestee miljoene aan nog veiligheidsaksies

Universiteit van Stellenbosch (Foto deur die mediakantoor verskaf aan Maroela Media)

Universiteit van Stellenbosch (Foto deur die mediakantoor verskaf aan Maroela Media)

ʼn Bykomende R2,2 miljoen per jaar vir veiligheidsinisiatiewe en ʼn eenmalige R4 miljoen vir die opgradering van voetgangerroetes is deur die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) bewillig om nog meer veiligheidsmaatreëls op veral die Stellenbosch-kampus in werking te stel.

Hierdie bedrae is bo en behalwe die bestaande veiligheidsbegroting.

“ʼn Oop kampus bied unieke uitdagings en om daardie rede het die Universiteit in onlangse jare meer as R10 miljoen aan verskeie pro-aktiewe sekuriteitsmaatreëls bestee,” het Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, in ʼn verklaring gesê. “Dit maak deel uit van ʼn deurlopende assessering- en uitbreidingsinisiatief.”

Volgens Viljoen is bykomende maatreëls in die eerste semester van 2014 ingestel weens die toename in veral straatroof-voorvalle. “Deurlopende maatreëls sluit sigbare beamptes, tegnologie, reaksie-kapasiteit, bewusmakingsveldtogte en aktiewe vennootskappe met die SAPD, die Stellenbosch Munisipaliteit en die breër veiligheidsgemeenskap van die dorp in.” Die bykomende patrollies wat in Mei vanjaar ingestel is, het nog R2 miljoen by die sekuriteitsbegroting gevoeg.

Kampussekuriteit by die Universiteit van Stellenbosch (Foto deur die mediakantoor verskaf aan Maroela Media)

Kampussekuriteit by die Universiteit van Stellenbosch (Foto deur die mediakantoor verskaf aan Maroela Media)

“Die finansiële inspuiting wat deur die Bestuur van die US goedgekeur is, verseker die volhoubaarheid van die bykomende veiligheidsmaatreëls wat reeds vroeër vanjaar geïmplementeer is,” het Viljoen van der Walt, direkteur: risikobestuur en kampussekuriteit, gesê. “Deur die getal wagte wat die primêre roetes op kampus patrolleer, te verdubbel, en die roetes te verkort na hoofsaaklik Victoria- en Bosmanstraat, is wagte se sigbaarheid op dié roetes verhoog.”

Van der Walt het bygevoeg elektriese karretjies sal voortaan ook die twee strate patrolleer en hierdie patrollies sal waarskynlik later ook na die dagskof uitgebrei word. ʼn Sekuriteitskiosk op die hoek van Victoria- en Bosmanstraat word ook snags beman.

Hy het studente aangemoedig om van bogenoemde roetes gebruik te maak en om verkieslik steeds in groepe rond te beweeg. “Dit verminder persoonlike blootstelling en dra by tot ʼn veiliger kampus,” het hy gesê.

Bestaande voetgangerroetes op kampus word ook binnekort uitgebrei, beveilig en beter verlig. Sekuriteitsones – areas wat deur middel van sekuriteitstegnologie meer as ander plekke beveilig word – sal ook oor die kampus heen afgebaken word.

“Sekuriteitsones word gekenmerk deur kameras en ligte en die gereelde teenwoordigheid van sekuriteits-personeel. Deur die omgewing te verfraai met waterfonteine en sitplekke, en nuttige fasiliteite soos selfoonlaaistasies op te rig, word studente na hierdie areas gelok,” het Van der Walt bygevoeg. “Waar daar ʼn vloei van mense is, is daar minder geleentheid vir misdadigers om ongesiens toe te slaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

PH Mackay ·

Met n bree sypadjie kan n mens lekkerder ,ry die rosyntjie raak , speel

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.