Vakansieslenter: Speurder vandag begrawe

Ao. Ben Strydom. Foto: Verskaf

Ao. Ben Strydom. Foto: Verskaf

Ao. Ben Strydom (47), ʼn speurder van die Sinoville-polisiestasie in Pretoria wat doodgeskiet is toe hy ʼn man in verband met ʼn vakansieslenter in hegtenis wou neem, word vandag begrawe.

Strydom se begrafnis vind om 11:00 by die Lewende Woord Kerk in Montana plaas. Na wat verneem word, gaan genl. Riah Phiyega, die polisie se nasionale kommissaris, en lt.genl. Lesetja Joel Mothiba, provinsiale polisiekommissaris, Strydom se diens bywoon. Nagenoeg 300 mense uit die gemeenskap, familielede en kollegas het Vrydagaand ʼn nagwaak vir Strydom gehou. Talle ruikers word ook by ʼn kruis geplaas wat by die polisiestasie opgerig is, ter nagedagtenis aan hom.

Maroela Media het verlede week berig Strydom het verskeie aanklagte van bedrog teen Hendrik Wright (65), Hendrik se vrou Renette (47), en hul sekretaresse Salome Klopper (54) ondersoek. Die drie word daarvan verdink dat hulle ʼn toerisme-onderneming bedryf het wat glo veral bejaardes ingeloop het. Hulle sou glo deposito’s van verskeie vakansiegangers neem, die vakansie kanselleer en dan met die slagoffers se geld verdwyn.

Strydom is verlede Donderdag tydens Hendrik se inhegtenisneming by sy huis in Montanapark noodlottig gewond. Hendrik het van die toneel weggejaag en is later deur die polisie op die Moloto-pad aangekeer. Hy het sy motor van die pad afgetrek, die vuurwapen op homself gerig en probeer selfmoord pleeg.

Renette en Klopper is ná die skietery in hegtenis geneem.

Renette en Klopper het Maandag vlugtig in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en bedrog. Hendrik was nie in die hof nie, aangesien hy nog in die hoësorgeenheid van die Steve Biko-hospitaal behandel word. Landdros Pierre Wessels het die saak tot 4 Augustus uitgestel wanneer die beskuldigdes formeel sal aansoek doen om borgtog en om Hendrik die kans te gee om te herstel.

Strydom laat sy vrou Madeleine (42) , en seun Dreyden (13) agter.

Lees ook:
Verdagtes in hof oor vakansieslenter wat tot speurder se dood lei
Paartjie in hof ná speurder se dood
Man skiet PTA-polisieman, homself

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

Ai en sy seunskind is op die ouderdom wat hy ‘n pa SO nodig het. So jammer vir die familie, een van die min polisiemanne wat sy werk wou doen en dan vermoor is. Mag daardie skelms KRY wat hul verdien!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.