Valke ondersoek nou tenderboksontploffing

Argieffoto

Argieffoto

Die valke ondersoek nou die voorval waar ʼn tenderboks vroeër vandeesweek by die departement van onderwys se kantoor in Polokwane, Limpopo, opgeblaas is. Talle tenderdokumente is daardeur verwoes.

Maroela Media het Woensdag berig polisie is na die toneel op die hoek van Excelsior- en Hospitaalstraat ontbied nadat ʼn ontploffing in die boks aangemeld is. ʼn Veiligheidswag het aan die polisie gesê ʼn donkergrys Mercedes Benz het Dinsdagaand omstreeks 23:00 die departement se perseel binnegery onder die voorwendsel om tenderdokumente in die boks te plaas. Etlike minute nadat die motor weggery het, het die boks ontplof.

Niks is gesteel nie, maar alle tenderdokumente wat in die boks was, is aan flarde. Die Limpopo-polisie het ʼn saak van brandstigting en opsetlike saakbeskadiging aanhangig gemaak voordat die Valke die ondersoek oorgeneem het.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het Donderdag gesê  die ontploffing het op die laaste dag plaasgevind wat tenders vir ʼn skoolvoedingskema ingehandig kon word.

“Voorlopige ondersoek het bepaal dat drie verdagtes by die voorval betrokke is,” het Mulaudzi gesê.

Genl.maj. Mthandazo Ntlemeza, waarnemende hoof van die Valke, het bevestig dat ʼn elite eenheid dié “misdaad teen die staat” ondersoek.

“Ons sien die voorval in ʼn baie ernstige lig en sal alles in ons vermoë doen om die oortreders vas te trek. Ons kan nie toelaat dat mense ploftoestelle vervaardig en in ons gemeenskappe laat afgaan nie. Ons sal nie rus voor die betrokkenes strafregtelik vervolg word nie,” het Ntlemeza gesê.

Enigiemand met inligting oor die voorval wat die Valke in hul ondersoek kan bystaan kan Crime Stop by 086 00 1011 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Die ANC het hulle mos dekades gelede geleer “As iets jou nie pas nie, blaas dit op”.

scalla ·

gehoor van die comrade wat opdrag gekry het om n seker lid se motor op te blaas, hy het sy mond verbrand want die uitlaatstelsel was nog warm.

Peet Schabort ·

Dit was ‘n voedseltender vir die voorsiening van maagbomme wat die boks boksveld toe geblaas het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.