Vervoerheffing vir petrol afgeskaf

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Heffing vir brandstof wat na die binneland vervoer moet word en motoriste ʼn bykomende 3c per liter kos, sal volgende maand afgeskaf word.

“Die minister het die afskaffing van die IITRS-heffing van 3c per liter in die kostestruktuur vir petrol en diesel goedgekeur,” het Robert Maake, direkteur van petrolprysmeganismes van die departement van energie, Donderdag gesê. Die heffing sal van 2 April afgeskaf word.

“Die heffing is nie deel van die basiese petrolprys nie, so dit is ʼn 3c-verlaging van die pomplyn,” het Maake gesê.

Die heffing is in 2009 ingestel toe die pyplyn tussen Johannesburg en Durban die vorige jaar volle kapasiteit bereik het.

Mashudu Sinthumule, adjunkdirekteur van petrolprysmeganismes by die departement, het gesê die heffing was ʼn vergoeding vir oliemaatskappye wat alternatiewe roetes gebruik. “Ons het maatskappye 3 sent betaal indien hulle hul produkte padlangs na die binneland gebring het. Dié bedrag is by die petrolprysstruktuur bygevoeg. Ons het gesê ons sal dit doen totdat ons ʼn alternatiewe plan bedink het.”

Sinthumule het gesê die nuwe multiprodukpyplyn is in 2012 voltooi, maar weens ʼn agterstand in die betaling aan oliemaatskappye kon die heffing nie vroeër afgeskaf word nie. “Ons betaal nie meer diegene wat van die paaie gebruik maak nie, aangesien ʼn alternatief nou beskikbaar is.”

Maake wou nie ʼn aanduiding gee of die petrolprys volgende maand gaan verhoog nie. Minister Ben Martins sal Vrydagmiddag die petrolprys vir April aankondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.