Vriend bring hulde toe sterf hy óók

Walter de Lange. Foto: Facebook.

Walter de Lange. Foto: Facebook.

Walter de Lange (44) wou sy beste vriend, wat Sondag in ʼn mikrovliegtuig verongeluk het, se nalatenskap vereer, net om ʼn soortgelyke dood te sterf.

Die twee vriende is dae ná mekaar in afsonderlike mikrovliegtuigongelukke oorlede, het Netwerk24 Donderdag berig.

ʼn Banier met die woorde “Wynand RIP” mag moontlik veroorsaak het dat De Lange se mikrovliegtuig Dinsdag omstreeks 17:00 naby die Springs-lughawe neergestort het. Hy is op slag dood.

Die banier was uit eerbied vir sy vriend, Wynand Snyders (50), wat Sondagoggend dood is toe sy mikrovliegtuig naby Lephalale in Limpopo neergestort het. Lees meer hier.

Wynand Karel Snyders en Jannie Snyders kort voor die ongeluk gebeur het. Foto: Verskaf

Wynand Karel Snyders en Jannie Snyders kort voor die ongeluk gebeur het. Foto: Verskaf

Snyders se 16-jarige broerskind, Jannie, was saam met sy oom in die ongeluk en het ernstige beserings opgedoen.

De Lange se vrou, Liza, het gesê Snyders se dood was ʼn groot skok vir haar man.

“Die twee was beste vriende,” het sy Woensdag by haar huis in Boksburg gesê.

De Lange het Dinsdag voor die ongeluk vir sy vrou ʼn boodskap gestuur om te sê dat hy vinnig sy mikrovliegtuig vir ʼn rit gaan neem. Hy het die banier juis vir dié rit gemaak.

“Soos ons verstaan, het iets met die banier gebeur wat veroorsaak het dat sy vliegtuig se enjin onklaar geraak het,” het Liza gesê.

Sy het gesê haar man het meer as vyf jaar se vlugondervinding met sy mikrovliegtuig gehad.

De Lange se familie is erg getraumatiseer deur die tragedie.

“Dit het alles so vinnig gebeur. In die boodskap wat hy vir my gestuur het, het hy gesê ek moet vir die kinders sê dat hy lief is vir hulle. Hy was die beste pa en was wonderlik met kinders. Hy was ʼn goeie … ʼn wonderlike man.”

Liza het gesê haar man was mal daaroor om te vlieg en wou altyd ʼn lugmagvlieënier geword het, maar sy sig was te swak. “As hy kon kies hoe hy wou sterf, dan sou dit só gewees het.”

Die Burgerlike Lugvaartowerheid ondersoek die oorsaak van albei ongelukke.

Intussen verbeter Jannie se toestand. Sy suster, Magda, het aan Netwerk24 gesê dat hy nou op sy eie kan asemhaal. “Jannie reageer goed. Hy maak self sy oë oop, maar is nog nie buite gevaar nie. Hy kan te eniger tyd ʼn terugslag kry.”

Netwerk24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.