‘Wouter Basson moet van rol geskrap word’

Wouter Basson. Foto: Werner Beukes/Sapa

Wouter Basson. Foto: Werner Beukes/Sapa

Honderde gesondheidswerkers en –organisasies eis dat dr. Wouter Basson, eertydse hoof van die weermag se chemiese en biologiese wapenprogram, van die rol van mediese praktisyns geskrap word.

Die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) se verhoor van Basson het Woensdag in Pretoria hervat. Mark Heywood van die regsbelangegroep Section 27 het aangevoer dat Basson nie in enige stadium berou vir sy aksies erken het nie.

Heywood het gesê hy verteenwoordig twee groepe wat aanbevelings gemaak het vir Basson se uitwerping. “Een van die groepe verteenwoordig talle van die land se mees vooraanstaande professionele gesondheidswerkers, professore en navorsers. Dit is almal lede van die RGB en baie is al vir dekades lank lede.”

Die groep het ʼn petisie opgestel wat lees: “Hoekom dr. Basson van die mediese register geskrap moet word. Ons doen ʼn beroep op die RGB om dr. Basson van die mediese register te skrap want sy aksies en ontkennings wys dat hy geen berou het nie en sonder verstand is van wat reg en verkeerd is. Dit is tyd dat apartheidsagente, wat gedink het hulle kan sonder straf optree, verantwoordelikheid neem vir hul totale miskenning van menseregte en die norme van ons Suid-Afrikaanse demokrasie.”

Jaap Cilliers SC, Basson se regsverteenwoordiger, het Heywood in ʼn stadium in die rede geval en gesê hy is ʼn leek wat nie status geniet rakende die mediese etiek van die beroep nie. Heywood is egter toegelaat om voort te gaan.

Sallie Joubert, van die RGB se regspan, het vroeër aangevoer dat Basson opgetree het op ʼn wyse wat skandelik is vir die mediese professie. “Ons sal argumenteer dat sy gedrag [gedurende die apartheidsera] op skandelike gedrag neerkom en dat dr. Basson ‘n skande vir die mediese beroep is.”

Joubert het aangevoer dat die toepaslike straf sal wees om Basson van die register van medici te skrap en dat hy die koste van die RGB se ondersoek betaal.

Die RGB het Basson in Desember verlede jaar skuldig bevind aan onprofessionele gedrag na ʼn verhoor van ses jaar oor Basson se betrokkenheid by Projek Coast tussen die 1980s en vroeë 1990s.

Basson is daarvan beskuldig dat hy etiese gedragskodes oortree het deur traangas vir oorlogvoering en dwelmmiddels vir ontvoerings ontwikkel het. Hy is ook beskuldig dat hy oneties opgetree het deur Mandrax, kokaïen en traangas te vervaardig wat aan Jonas Savimbi, Unita-leier van Angola, verskaf is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elsabe Otto ·

Nou wonder ek maar net! Dit was sy werk! Wie doen dit vandag? Moet my tog net nie vertel dit word nie meer gemaak nie.!

Dave ·

Wel, julle wat Wouter Basson van die rol geskrap wil sien, sal julself moet afvra of julle ook geeis het dat ‘n staatspresident wat ‘n moordenaarsgroep ondersteun het terwyl hulle winkelbomme geplant het en onskuldige mense vermoor het, ook ‘van die rol geskrap word’. Plaas die twee op ‘n skaal langs mekaar; die man wat ‘n moordenaarsgroep gehelp en ondersteun het sodat hy die land se leier kan word en die man wat soveel in die weegskaal gegooi het om daardie moordenaars te beveg en sê watter een weeg die swaarste en waarom dit so is.

Dewald Matthysen ·

Gerieflik word die sondes van die bevrydings organisasie vergeet. Wat van Mcbride en company se oortredings waar daar bewyse van hulle moord dade is.

Pasiënt ·

Hoekom van dr Basson ‘n sondebok maak? Daar is baie onreg en etiese vergrype aan beide kante (NP en ANC) gedurende hierdie strydtydperk, waarna verwys word, gemaak. Hoekom net die een party se medewerkers uitsonder vir straf. Of is dit omdat die ander party s’n “onaantasbaar” in die parlement sit?
Basson is van ons land se top medici, en sal verseker groener weivelde gaan opsoek en dit kry.

Vlooi ·

Hulle is bang vir Basson. Dis die rede hoekom hulle van hom ontslae wil raak.

Petra Kapp ·

Ek wens hul wil Wouter Basson uitlos sodat hy kan voortgaan om mense se lewens te red. Hy is n uitstekende hart spesialis. Hy het daardie jare opdragte uitgevoer. Ja dit nie reg maar genade ons presidente en baie ander baie erger dade pleeg en laat pleeg. Wat maak hul anders as Wouter? Hoekom km hul weg daarmee?. Ek is n pasient van hom al vir baie jare en kn net met lof vn hom praat. Hy het my lewe gered op die operasie tafel. So kan baie getuig van sy goeie dade. Dankie Wouter ons staan by jou. Sterkte

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.