Zuma oorweeg skorsing van NVG-hoof

Mxolisi Nxasana. Foto: GCIS

Mxolisi Nxasana. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het Mxolisi Nxasana, hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), in kennis gestel dat hy dit oorweeg om hom te skors, het die presidensie Vrydag gesê.

“Die president oorweeg om hom [Nxosana] met volle salaris te skors… hangende ‘n ondersoek,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ‘n verklaring gesê.

“Besonderhede rakende die ondersoek na sy geskiktheid om sy amp te beklee, word tans gefinaliseer en sal mettertyd aan hom oorgedra word.”

Maharaj sê Nxasana, die nasionale direkteur van openbare vervolgings, sal die geleentheid kry om geskrewe voorleggings te maak.

Die NVG het vroeër gesê dat Nxasana nie geskors is nie en dat hy ‘n begrafnis bywoon en om die rede nie Vrydag op kantoor is nie.

Nathi Mncube, woordvoerder van die NVG, sê Willie Hofmeyr, adjunkhoof van die NVG, neem in sy plek waar.

Die presidensie se aankondiging kom na ‘n berig in The New Age dat Nxasana geskors is.

Zuma het op 5 Julie aangekondig dat daar ‘n ondersoek gaan wees na Nxasana nadat hy glo nie ‘n veiligheidsklaring gekry het nie weens vorige botsings met die gereg.

Volgens mediaberigte is Nxasana in 1985 vir moord aangekla maar is hy later vrygespreek na sy weergawe van selfverdediging. Hy het glo ook erken dat hy in September verlede jaar vir roekelose bestuur en verset teen arrestasie in hegtenis geneem is.

Hy is glo ook 12 jaar gelede met R2 000 beboet en vir drie jaar geskors deur die KwaZulu-Natalse Prokureursorde weens wangedrag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VerVanRyn ·

Maar natuurlik gaan hy met sy volle salaris gekors word. Dan doen Hofmeyr al sy werk terwyl Nxasana by die huis sit en bier drink. Wonderlike land waar skelms top poste kry en dan op permanente betaalde verlof gaan as hul misdade aan die lig kom.

HEVW ·

Afgedank met n vet inkomste. En wat se sy verlede waarmee gaan hy hom besig hou. Heelmoontlik met misdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.