‘n Vrou van Langa is Vrydag in hegtenis geneem nadat sy glo probeer het om ‘n verkragting geheim te hou.
Die 55-jarige vrou is by die Bishop Lavis-hof in hegtenis geneem, berig EWN. Sy was in die hof om haar 26-jarige seun te ondersteun wat in die hof moes verskyn op aanklag dat hy ‘n 7-jarige verkrag het. Die vrou is nou as een van die verdagtes tot die saak bygevoeg. Die voorval het glo in Augustus plaasgevind.
Die vrou het glo die jong slagoffer gebad nadat sy van die beweerde verkragting te hore gekom het. “Die vrou is Vrydag as medepligtige in hegtenis geneem,” het November Filander, woordvoerder van die polisie gesê. Die ma en die seun sal beide later in Oktober in die hof verskyn.