Dorothy Carlyle (59) van Durban is erg aangerand en was ure lank in haar motor se kattebak toegesluit nadat sy gekaap is.
Daily News berig dat Carlyle omstreeks 14:30 Dinsdagmiddag by haar huis in Durban-Noord gekaap is. Volgens ʼn polisiebron het die kapers met Carlyle se bankkaart geld getrek. “Hulle het haar na ʼn OTM in Newlands-Oos geneem waar hulle R2 000 getrek het voor hulle haar na KwaMashu geneem het.” Die kapers het glo Carlyle se daaglikse limiet op haar kaart bereik en het haar waarskynlik verder aangehou sodat hulle die volgende dag nog geld kon trek. ʼn Reuse soektog na Carlyle is van stapel gestuur. Carlyle is omstreeks 23:30 Dinsdagaand in KwaMashu gevind. Sy is in haar motor se kattebak gevind terwyl haar kapers glo besig was om partytjie te hou en te spog oor wat hulle gedoen het. Daar het glo ʼn skietery tussen die polisie en die kapers uitgebreek. ʼn Man en twee vrouens, tussen die ouderdomme van 15 en 22, is in hegtenis geneem in verband met die voorval. Die polisie is op soek na nog twee verdagtes. Carlyle is glo twee keer met ʼn skerp voorwerp gesteek en aangerand. Sy sterk tans aan in ʼn plaaslike hospitaal.
Lees meer hier.