[Foto’s] Honderde boeke vir seun wat gemorspos lees

Mathew Flores Foto: Ron Lynch, Facebook

Mathew Flores Foto: Ron Lynch, Facebook

Tot onlangs was gemorspos die enigste leesstof vir ʼn 12-jarige seun wat nie kan ophou lees nie, omdat sy gesin nie geld het om boeke te koop nie.

Mathew Flores van Salt Lake City in Utah, VSA, het onlangs sy posbode gevra of hy nie dalk nog leesstof vir hom het nie.

Die posbode, Ron Lynch, het dié vreemde versoek op Facebook geplaas: Terwyl ek vandag pos afgelewer het in ʼn woonstelblok, het ek gesien die seun sit en gemorspos lees. Hy wou weet of ek dalk nog leesstof vir hom het.”

Volgens Lynch het die seun nie genoeg geld om met ʼn bus by die naaste biblioteek uit te kom nie.

“Hy het gesê sy enigste wens is nóg boeke om te lees. Meeste kinders van sy ouderdom soek net elektronika. Dis wonderlik om sy begeerte te sien, en ek wens julle kon sien hoe sy gesig opgehelder het toe ek sê dat ek hom kan help. Hy maak staat op my, en nou maak ek staat op julle.”

Mathew Flores Foto: Ron Lynch, Facebook

Mathew Flores Foto: Ron Lynch, Facebook

Lynch het gedink sy Facebook-plasing sou dalk 50 of 60 boeke oplewer, maar sy versoek is wêreldwyd versprei en mense van dwarsoor die wêreld, selfs die Verenigde Koninkryk, Australië en Indië stuur nou vir die seun boeke.

Honderde boeke is reeds afgelewer en daar is nog honderde op pad.

“Ek is stomgeslaan oor almal se vrygewigheid,” het Lynch gesê.

Flores het onderneem om al die boeke te lees, en hy kan nie wag om dit met ander kinders te deel nie.

Persone wat ʼn boek wil stuur kan die volgende adres gebruik:
Mathew Flores
c/o Sandy Post Office
8850 S 700 E
Sandy, UT 84070

Lees meer: KSL.com, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Boekwurm ·

Wonderlike nuus…..jongman jy gaan nog ver kom in die lewe…. wens net alle jongmense wil jou voorbeeld volg…

Cathy Kotze ·

Klein klits. Alle biblioteke is gratis in die VSA en elke dorp en stad het gewoonlik ‘n hele paar.

Amerikaners en Kanadese soek nou maar eenmaal altyd ‘n nood wat hulle wil verlig. Dis waarom daar gereeld deur gewone mense ingespring word wanneer tragedie tref of wanneer iemand gehelp kan word.

At ·

Cathy, kan jy nie eers ordenlik lees nie, daar word gese in die berig dat hy nie busgeld het om by ‘n biblioteek uit te kom nie. Waarom so negatief oor ‘n positiewe saak.

hein smit ·

Ja, ek het jare in Amerika gebly. Dis waar dat daar gratis in elke stad biblioteke is, maar nou ook nie om elke hoek en draai nie. ‘n Paar plekke waar ek gebly het was ver van Biblioteke in die dorp , en het jy vervoer nodig om by die naaste biblioteek uit te kom. Dis eintllik maar logies oor die wereld . Dit is wonderlik om te lees van ‘n jong mens wat nog boeke
wil lees, in ‘n wereld waar rekenaars en elektroniese speletjies hoogty vier. Ek sien ‘n blink toekoms vir hierdie jong man! Wonderlik artikel ook van mense wat nog betrokke wil raak en iemand se nood verlig/ drome waar maak. “n Les te leer vir sommige mense.

hein smit ·

Eintlik kan ons Suid Afrikaners baie leer by die Amerikaners oor betrokke raak by ander mense in nood op ‘n groot skaal. Dit kos nie baie om ‘n verskil in iemand wat dit nodig het, se lewe te maak nie. Maak ‘n verskil mense. Die lewe draai nie net om my eie klein wereldje nie.

Lindie Lourens ·

Dis wonderlik om van sulke goeie dade te lees. Die oplettende kindervriendelike posbode is my held. Dit vra eintlik so min van ons om kinders leesgierig te maak. My klas se graad eens kon elke Vrydag ‘n nuwe leesboek vir die week uitneem. Hulle kon dit self lees of Mamma moes dit vir hulle lees.
Ek het verlede jaar ophou skoolhou en het by ‘n ander plaasskool in die omgewing betrokke geraak. Die kinders kom byna almal uit ‘n plakkerskamp. Ek voorsien nou kwartaalliks aan elke kind in die klas ‘n nuwe leesboek wat hulle Vrydae tussen mekaar uitruil en aan die einde van elke kwartaal mag hy sy laaste ruilboekie vir homself hou. Onnodig om te sê hoe hulle uitsien na elke kwartaal se eie boek. Vrydae stop hulle die skoolbus as die ruilproses nognie plaasgevind het nie. ( Dwarsdeur die jaar snuffel ek deur elke boekwinkel vir effektiewe, bekostigbare leesboeke )

E.K. ·

Lindie Lourens, ek gee hiermee die reg aan Maroela om my epos adres aan jou te gee – ek sal baie graag ‘n boek of twee wil bydra vir jou groepie. As Maroela jou my e-pos adres gee kan jy my dus kontak en ek sal kykw at ons kan doen!

E.K. ·

Lindie – het vergeet – jy sal sekerlik epos aan Maroela moet stuur alvorens hulle sal reageer en my beosnderhede derugee. Maar ek bedoel dit hoor, ek sal graag help!

Lindie Lourens ·

Dankie, E.K. Maroelanuus se Suné het my jou besonderhede gestuur. Ek is in die wolke. “Klein begin , is half gewin.”

pop ·

Nou toe mense, begin boeke uitgee, weggee en bymekaarmaak. Ek het nou een dag n doos vol boeke gehad en neem dit toe biblioteek toe, nodeloos om te se dat die mense daar dit nie wou he nie want dis afrikaans. Maar ek het dit saamgeneem Kaap toe en n plaasskool daar was in die wolke daaroor.

poplap ·

Boeke kan ook by ouetehuise afgelewer word. Hier by ons is ook ‘n vrou wat 2dehandse meubels verkoop – ook oudhede – en sy het die oulikse boekehuisie in ‘n buitekamer ingerig. Mense kan ou boeke daar omruil of selfs daar kom afgee. Die wat wil kan ook net daar binne kom sit en lees. Boeke is so ‘n kosbaarheid en ons moet regtig streef daarna om die wat nie leesstof kan bekom nie op so ‘n manier te probeer lief maak vir lees.

E.K. ·

Pop en poplap, ek kry sommer nuwe moed as ek julle kommentaar lees. Ek is ‘n absolute boekwurm en het my kinders so grootgemaak ook. Ek stem, mens moet boeke versprei en laat kinders eerder lees as dat hul heeltyd op die ou aaklige selfone lê waar hul taal verswak met die ewige simpel selfoontaal. Lindie het jou epos gekry en geantwoord. DANKIE MAROELA!Mens kan so mekaar help deur “leesliefde” te laat groei. as mens kinders ken wat enigsins lyk of hul hou van lees, moedig dit tog aan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.