Foto’s: Trekker-meisie keer terug na suksesvolle Suidpool-reis

Manon Ossevoort het die reis na die Suidpool suksesvol afgelê in haar Massey Ferguson-trekker Foto: Massey Ferguson

Manon Ossevoort het die reis na die Suidpool suksesvol afgelê in haar Massey Ferguson-trekker Foto: Massey Ferguson

Manon Ossevoort, ʼn Nederlandse aktrise en avonturier, het ʼn 5 000 km lange reis na die Suidpool en terug suksesvol afgelê met ʼn 3.3 liter Massey Ferguson 5610-trekker.

“Ek het gehoor hoe sê die Russe by die Novo-basis vir mekaar, ‘Hierdie meisie op die trekker gaan dit nooit maak nie’,” het Ossevoort Maandag aan verslaggewers in Kaapstad gesê. Sy het met haar trekker van die Novolazarevskaya-stasie, Rusland se Antarktiese navorsingsbasis, na die Suidpool en terug gereis. Sy het twee dae gelede weer by die stasie aangemeld.

“Ons het allerhande toestande beleef,” het sy gesê. “Sneeu en ys, en sagte, sagte, supersagte sneeu, en sneeu so hard soos bevrore berge.”

Ossevoort (38) het gesê die Antarctica 2-ekspedisie, wat op 9 Desember by die Suidpool aangekom het, het ʼn “klein revolusie” in Antarktiese reis ontketen. Dit is die eerste keer dat ʼn voertuig met bande by die Suidpool kon uitkom.

Haar Massey Ferguson 5610-trekker, wat algemeen in Europa vir landbou-aktiwiteite gebruik word en om grond te ploeg, is spesiaal toegerus vir die ekspedisie. Daar is wysigings aan die kajuit, petroltenks en batterye aangebring om seker te maak dit kan die uiterste koue hanteer. Daar is ook bykomende verwarmers geïnstalleer. Die trekker het ook spesiale bande opgehad vir beter vastrap op sneeu en ys. Die trekker het glo ook minder brandstof gebruik as ander voertuie wat die reis na die Suidpool onderneem.

Ander lede van die ekspedisie het Ossevoort bygestaan in twee Toyota vier- en seswielaangedrewe vragmotors.

“Soms was die sneeu só sag dat ons in een stadium ongeveer 500 meter per uur gereis het,” het sy aan Sapa gesê. “Dit het agt uur geneem om 17 km af te lê.” Die koudste temperatuur was -58°C.

Ossevoort, die sogenaamde “Trekker-meisie”, het vier jaar gelede 38 000 km deur Europa en Afrika afgelê met ʼn trekker.

Sy hoop om betyds voor Kersfees by haar gesin in Nederland aan te sluit.

Haar trekker, wat steeds by die Novo-basis in Antarktika staan, sal met ʼn skip na Beauvais in Frankryk vervoer word waar dit in ʼn museum uitgestal gaan word langs Sir Edmund Hillary se trekker uit sy ekspedisie 56 jaar gelede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.