Minstens 19 dood toe twee treine ontspoor

Foto: P Singh Harda, BBC

Foto: P Singh Harda, BBC

Minstens 19 persone is dood en 250 persone is gered nadat twee passasierstreine oor ʼn brug in Indië ontspoor het.

Die Kamayani Express was op pad na Mumbai toe hy Dinsdagaand naby Harda in Madhya Pradesh ontspoor het. Die Janata Express het in die teenoorgestelde rigting beweeg en het kort daarna ook ontspoor.

Die treine het ʼn brug oorgesteek waar die Machak-rivier, ongeveer 950 km suid van New Delhi, sy banke begin oorstroom het weens die moesonreën. Nóg ʼn trein het ongeveer 10 minute voordat die eerste trein ontspoor het, die brug veilig oorgesteek. ʼn Kitsvloed het egter veroorsaak dat ʼn deel van die spoor in die grond weggesak het, het AK Mittal, ʼn senior spoorwegbeampte, gesê.

Ses waens van die Kamayani Express en die enjin en vier waens van die Janata Express het ontspoor.

Twee van die waens is gedeeltelik onder die water, het spoorwegbeampte Anil Saksena bygevoeg. Alhoewel meeste mense na hul veiligheid gebring is, is reddingswerkers steeds op soek na passasiers wat moontlik vasgekeer is. Minstens 19 liggame is reeds uitgehaal. Een persoon het ernstige beserings opgedoen, het Bijendra Kumar, ʼn spoorwegbeampte in Bhopal, hoofstad van Madhya Pradesh, gesê. Die junior minister van binnelandse sake, Kiren Rijiju, het gesê 250 mense is gered.

Die waens wat nie deur die ongeluk geraak word nie, is teen Woensdagoggend van die spoor verwyder en reddingsoperasies sal binnekort afsluit, het Kumar bygevoeg. Hy het gesê spoorwegwerkers sal so gou as moontlik die spoorlyn moet herstel sodat die verkeer weer kan vloei. Talle treine word opgehou weens die ongeluk.

Die reën het Woensdag bietjie bedaar ná twee dae van stortreën.

Indië het een van die wêreld se grootste spoorwegnetwerke, maar talle dele word nie goed onderhou nie en ongelukke is algemeen. Alhoewel dit “express”-treine genoem word, reis hulle selde vinniger as 50 km/h.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.