ʼn Tweede wrakstuk, wat vermoedelik deel was van ʼn vliegtuig, het op Reunion, ʼn eiland in die Indiese Oseaan, uitgespoel.
Maroela Media het vroeër berig ʼn deel van ʼn vlerk, wat vermoedelik deel was van Malaysian Airlines se vermiste vliegtuig, vlug MH370, het Woensdag uitgespoel.
Die tweede voorwerp, vermoedelik die deur van ʼn vliegtuig, is net suid van St Denis gevind. Daar is glo vreemde skrif op die wrakstuk en moontlik ook ʼn illustrasie, berig BBC.
Die vliegtuig, met 239 persone aan boord, het in Maart 2014 tussen Kuala Lumpur en Beijing verdwyn.
Die eerste deel wat uitgespoel het, is na Toulouse in Frankryk gestuur, waar ondersoekbeamptes sal bepaal of dit wel deel was van MH370. Die wrakstuk is vermoedelik ʼn vlerkdeel van ʼn Boeing 777, dieselfde tipe vliegtuig as die een wat verdwyn het. Beamptes begin Woensdag met hul ondersoek.
Lees alle vorige berigte oor Vlug MH370 op Maroela Media.