Video: Meer as 30 miljoen geraak in VSA se “monsterstorm”

Foto: Facebook

Foto: Facebook

In wat beskryf word as die ooskus van die VSA se grootste sneeustorm nog, het drie groot stede bykans alle aktiwiteite gestaak. Meer as sesduisend vlugte is reeds gekanselleer terwyl sneeu deur ysige winde aangedryf word.

Van Boston, New York tot Philadelphia het in hul “skulpe” teruggetrek. Dit is die eerste keer sedert die storm Sandy in 2012 dat New York bykans alle aktiwiteite moes opskort.

Terwyl sommige media berig dat New York alle padverkeer verbied het, berig Myfoxny.com dat die burgemeester gewaarsku het dat dit gevaarlik mag wees om paaie en sypaadjies te gebruik. Minstens sommige paaie en strate is egter wel gesluit. Die goewerneur van New York het padgebruik in dertien distrikte, waaronder dele van die stad New York soos Long Island, vir alle verkeer behalwe noodverkeer verbied. Oortreders kan met tot $300 beboet word.

Minstens ses deelstate het noodtoestande afgekondig.

Die Syracuse.com berig dat winkels wat kos verkoop, voor die koms van die storm leeggekoop was.

Uiteindelik sal sowat 20 persent van die Amerikaanse bevolking deur die storm geraak word. Ander bronne meen tot 60 miljoen mense kan geraak word.
Tot ʼn meter sneeu word verwag, terwyl verskeie kusstreke vir gety-oorstromings gewaarsku is. In New York word verwag dat die gety ’n meter hoër as gewoonlik sal opstoot.

Intussen het die Amerikaanse weerdiens verklaar dat die ooskus van die VSA nou amptelik die dekade met die meeste sneeu beleef het sedert met rekordhouding begin is.

Bronne: The Telegraph, Trouw, myfoxny.com, Climate Depot, New York Observer, CNN, weather.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.