Die Rosetta-ruimtetuig van die Europese Ruimte-agentskap kom Woensdag ná tien jaar by sy eindbestemming, die komeet 67P/Churyumov-Gerasimenko aan.
Dit sal met ingewikkelde maneuvers in ‘n wentelbaan om die komeet gaan en algaande nader en nader beweeg. Rosetta se landingstuig, Philae, sal op 9 November vanjaar op die komeet land.
Rosetta het 6,4 miljard kilometer afgelê in sy tog om uiteindelik by die komeet uit te kom. In die proses het dit verskeie kere by die aarde en Mars verbygeskuur om deur die slingervel-metode te versnel sodat dit ‘n snelheid soortgelyk as die komeet kon bereik.
Philae sal ‘n gat in die komeet boor om die samestelling daarvan te bepaal. Dié soort inligting word benodig om die ontstaan van die aarde en die heelal beter te verstaan. Rosetta het onlangs in sy nadertog na die komeet vasgestel dat dit uit twee koppe bestaan wat aanmekaar vas is. Dit sal Philae se landing heelwat moeiliker maak, en selfs Rosetta se omwenteling kompliseer.
Rosetta het op ‘n afstand van 5 000 kilometer die temperatuur van die komeet gemeet en vasgestel dat dit te warm is vir ‘n ysbedekking. Die komeet het ‘n donker, stowwerige oppervlak. Nogtans is die komeet se gemiddelde oppervlaktemperatuur minus 70 grade. Dit is tussen 20 en 30 grade warmer as wat verwag is.
Bronne: Trouw, De Standaard, Webwerf: Europese Ruimte-agentskap
Briljant !
@Shannon – ek stem! Baie interessant en ons hoop om nog meer later te hoor.