Video: Unieke Nasa-tuig kom by Mars aan

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Nasa se Maven-tuig (Mars Atmosphere and Volatile Evolution spacecraft) het Sondag in ’n wentelbaan om Mars gegaan om ontledings van Mars se atmosfeer te doen.

Maar die tuig sal skaars by sy bestemming wees, of dit sal moet “koes” vir ’n komeet en terselfdertyd met sy toerusting ondersoek van die komeet moet doen.

In wat as ’n een uit ʼn miljoen kans beskryf word, word Maven se aankoms gevolg deur ’n baie nabye besoek van die komeet C/2013 A1 Siding Spring, wat net 135 000 kilometer van die rooi planeet verby sal skuur. Sou ’n komeet so naby aan die aarde kom, sou dit tussen die maan en die aarde, maar nader aan die aarde verbyskuur.

Maven, soos ander bestaande satelliete, sal dus so ver as moontlik aan die ander kant van die planeet moet gaan skuilhou. Die stof wat die komeet afgee, kan aansienlike skade aan satelliete aanrig, en Maven se projek kos juis $671 miljoen.

Weens die seldsame geleentheid om ’n komeet van so naby te bestudeer, sal so veel as moontlik van die satelliete, Maven inkluis, egter tydelik hul instrumente op die komeet rig. Maven beskik byvoorbeeld oor ’n ultraviolet spektrometer.

Toe Maven ses maande gelede gelanseer is, was sy doel egter uitsluitlik om met ‘n ovaalvormige wentelbaan af en toe in Mars se atmosfeer te “duik” en daarvan te “skep” om dit met gevorderde toerusting te ontleed. Die wetenskaplikes wil graag weet hoekom Mars se atmosfeer honderde miljoene jare gelede omstandighede gunstig vir mikroskopiese lewe kon onderhou, soos vloeiende water, maar nou is die druk van die atmosfeer net een persent van dié van die aarde en te dun om enige lewe te onderhou. Bestaande teorieë, soos dat die magneetveld min of meer verdwyn het en die atmosfeer daarom deur die sonwind weggewaai is, sal getoets kan word.

Die aankoms en plasing in ’n wentelbaan om Mars sal outomaties gebeur, aangesien dit meer as twaalf minute neem vir seine om van daar die aarde te bereik.

Meer in die Christian Science Monitor kan hier gelees word.

Nasa se jongste nuusverklaring kan hier gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.