Winkelrakke leeg weens staking

Talle winkelrakke, soos dié een by die Braamfontein Pick’nPay is leeg weens die staking in die vervoerbedryf. Foto: Akinoluwa Oyedele, Twitter

Verskeie supermarkte het Maandag bevestig dat hulle tans ‘n tekort aan voorraad beleef weens die staking in die vervoerbedryf.

Duisende vragmotorbestuurders het verlede week begin staak en dring aan op ‘n jaarlikse salarisverhoging van 12% vir die volgende twee jaar. Wayne Hook, hoof uitvoerende beampte van Spar, het gesê daar is ‘n vertraging in die aflewering van goedere, maar hulle verwag nie dat klante leë rakke sal sien nie, berig EWN. “Vragmotors wat na die verspreidingsentrum kom word beïnvloed. Ons sukkel om voorraad by van ons takke uit te kry, maar ons is stadigaan besig met aflewerings,” het Hook gesê.

Pick’nPay het ‘n verklaring uitgereik wat sê dat sommige probleme aangemeld is, maar dat hulle gebeurlikheidsplanne het indien die staking uitgerek word.

Die Suid-Afrikaanse Petrolbedryfsvereniging het gesê hulle word tans nie geraak nie, maar sal voortgaan om die situasie dop te hou.

Die South African Transport and Allied Workers’ Union (Satawu) het werkers aangemoedig om hul staking Dinsdag te verskerp in die hoop dat werkgewers aan die werknemers se eise sal voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kobus ·

Ek het gister gesukkel om brandstof op te spoor in Lyttleton, Pretoria; hoop nie die staking sloer te lank nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.