Ter viering van Afrikaans se 90ste bestaansjaar as amptelike taal, hou ons spesiaal op 12 September ʼn buitelugfliekpiekniek, ‘n “buitebioskoop”, by die Botaniese Tuin in Pretoria. Eg Afrikaanse eet- en drinkgoed sal by stalletjies op die terrein te koop aangebied word en jy sal kan weglê aan die heerlikste pannekoeke, kerrie-en-rys en jafels tot springmielies, yskoeldrankies en nog vele meer.
Of jy kan jouself bederf en vooraf vir jou ʼn piekniekbondel bespreek. Dit is nie sommer net enige pienkniekbondel nie: Lorraine van Kokkedoor stel dit saam met heerlike eetgoedjies uit haar eie kombuis! Lees meer hier.
Hier is nog ʼn resep van Lorraine.
Bestanddele:
- 2 koppies rou botterskorsie (in 2 cm blokkies gesny)
- 50 ml olyfolie
- sout en peper na smaak
- 6 takkies vars tiemie
- 250 g sampioene
- 1 eetlp botter
- 5 ml droë knoffel-en-kruie-mengsel
- 2 wiele feta
- 2 sprietuie, fyn opgekap
- 125 ml melk
- 4-6 eiers
- 250 g pakkie repiespek
- mikrokruie (soos bronkors) vir garnering
- kersietamaties vir garnering
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180˚C
- Plaas botterskorsie op ’n bakplaat en sprinkel met olyfolie.
- Geur met sout en peper en vryf die blare van die tiemietakkies af en strooi oor botterskorsie. Rooster vir 15-20 minute tot gaar.
- Sny die sampioene op en braai in bietjie botter en knoffel-en-kruie-mengsel. Plaas sampioene en botterskorsie saam in ’n medium grootte mengbak.
- Krummel die feta in die botterskorsiemengsel in. Voeg die sprietuie daarby.
- Klits die melk en eiers goed saam.
- Verdeel die botterskorsievulsel in die voorbereide kolwyntjiepannetjies, ongeveer ’n opgehoopte eetlepel per holte. Vul die holtes daarna met die eiermengsel tot heelbo. Plaas in die oond en bak vir 20-25 minute tot goudbruin.
- Laat die frittatas in die kolwyntjie pannetjie afkoel voordat jy dit verwyder.
- Plaas die repies spek in ’n waaierpatroon bo-op ’n draad afkoelrakkie. Plaas in die oond vir 15-20 minute tot bros.
- Bedien elke frittata met 2 repies spek,
- Garneer met mikrokruie en gehalveerde kersietamaties.
Lekker vir ontbyt en versnaperinge.