Soorte resepte:

Gluten-vry of nie?

gluten-vry-brood

Brood en ‘n gluten-vrye dieët word dikwels gedabatteer. Foto: Zoozo.org

Althea Nel

Ek dink aan brood sedert Prof Tim Noakes The Real Meal Revolution bekend gestel is en ek ure spandeer het om oor die “meriete” van brood te debatteer. In ’n stadium het ek besef dat ek my eie navorsing moes doen, aangesien ek myself dikwels in ’n hoek vasgeredeneer het. Nie die ideale posisie vir ’n voedselwetenskaplike nie. My siening was gebasseer op die feit dat brood deel is van die “heilige drie-eenheid” van Bybelse kos, dus moet dit “Bybels-korrek” wees om brood te eet. Daar was egter een faktor waarmee ek nie rekening gehou het nie – die mens en hoe hierdie “wese” my mooi storie opgemors het. Ek kan nóg ’n boek skryf met al die inligting waardeur ek oor die afgelope maande gewerk het, maar dit sal julle net verveel. Ek het dus ’n verkorte weergawe saamgestel. Hopelik het jy tyd om hierdie artikel te lees en miskien is jy bereid om iets daaraan te doen as dit jou raak. Deel dit asseblief met familie en vriende – enige terugvoer is welkom.

“Gee ons vandag ons daaglikse brood”. Dis in die Bybel. In Deuteronomium beskryf Moses die Beloofde Land as “’n land van graan en gars en wingerde”. Brood is sentraal tot godsdienstige seremonies en word 89 keer in die Bybel genoem. Jode vier Paasfees met ongesuurde paasbrood om die Israeliete se vlug uit Egipte te herdenk. Christene eet brood wat die liggaam van Christus voorstel. Moslems beskou ongesuurde naanbrood as heilig en dring daarop aan dat dit regop geberg en nooit in die openbaar weggegooi word nie. In die Bybel is brood ’n metafoor vir ’n mildelike oes, ’n tyd van oorvloed, vryheid van hongersnood, selfs ’n bron van verlossing.

Breek ons nie brood met vriende en familie nie? Is iets nuuts nie “die beste ding sedert gesnyde brood nie?” Om “die brood uit iemand se mond te neem” is om daardie persoon van ’n noodsaaklikheid te ontneem. Brood is ’n byna universiële stapelvoedsel: chapati in Indië, tsoureki in Griekeland, pitta in die Midde-Ooste, aebleskiver in Denemarke, naan bya vir ontbyt in Burma, baguette in Frankryk, ciabatta in Italië en glazed doughnuts in die VSA.

Die idee dat ’n voedselsoort wat so fundamenteel en diep ingewortel in menswees is, sleg vir ons kan wees, is ontstellend en gaan teen die grein in van ou kulturele beskouings oor graan en brood. Maar vandag se brood het bittermin in gemeen met die brood uit ons voorvaders se oonde. Uit die oorspronklike vertakkings van wilde gras wat deur die eerste mense geoes is, het graan in meer as 25 000 variëteite ontwikkel, waarvan omtrent almal die gevolg van menslike inmenging is – meestal in die laaste deel van die twintigste eeu, toe ’n ontwrigting in kruisingsmetodes die graan verander het.

Genetiese verskille, geskep deur duisende mensgemaakte verbasterings, lei tot aansienlike variasies in samestelling, voorkoms en eienskappe, wat nie net belangrik vir sjefs en voedselaanlegte is nie, maar ook ons gesondheid kan raak. Dit is die stand van sake met hierdie mensgemaakte gras wat ons steeds “koring” noem.

In gesondheidsliteratuur—of dit nou mediese joernale, bloginskrywings of tydskrifartikels is—sal jy waarskynlik op sommige van hierdie terme afkom: coeliakie, gluten-intoleransie, gluten- sensitiwiteit, gluten-sindroom, en gluten-/graan-allergie. Die terme wat mense rondgooi kan verskeie dinge beteken, maar het iets in gemeen: dit beskryf die imuunreaksie wanneer gluten, ’n proteïen wat voorkom in graan, gars en rog, geëet word.

Die biologiese meganismes agter coeliakie is ingewikkeld en word steeds nie ten volle begryp nie, maar die basiese idee is dat gluten – ’n groep proteïene in graan, rog en gars – ’n auto-immuun reaksie veroorsaak wat die epiteellaag van die dunderm kwaai beskadig. Gliadien en glutenien is die twee hoofkomponente van gluten, met gliadien die primêre oorsaak van coeliakie.

Moet ek ’n gluten-vrye dieët oorweeg?

Moet jy oorweeg of jou liggaam ’n probleem met graan kan hê? In my opinie moet enigiemand wat in hierdie era leef, dié vraag ten minste oorweeg. Indien jy aan enige van die meer as 200 toestande ly wat met gluten-sensitiwiteit geassosieer word, sou ek ernstig aanbeveel dat jy graan uit jou dieët sny. Dié toestande is die “kortlys”:

  • Gastroïntestinale probleme: opgeblasenheid, krampe, diarree, hardlywigheid, prikkelbare derm-sindroom, swak spysvertering, sooibrand, ens;
  • Hoofpyne, veral skeelhoofpyne;
  • PMS;
  • Onvrugbaarheid;
  • Inflammasie—sistemies of die hele liggaam;
  • Stywe gewrigte;
  • Buierigheid: angstigheid of depressie;
  • Skisofrenie;
  • Probleme soos leergebreke, outisme, hiperaktiwiteit in die kinderjare;
  • “Hoendervel” op die agterkante van jou arms (klein knoppies wat ’n skurwe vel veroorsaak);
  • Asma en aamborstigheid;
  • Kroniese gesnuif;
  • Hoes;
  • Chrohn se siekte;
  • Velprobleme (ekseem, psoriase, aknee, jeukerige vel, uitslag);
  • Moegheid en min energie;
  • Slapeloosheid;
  • Vogretensie;
  • Auto-immuun siektes (artritis, alopesie, auto-immune hipotireose, tipe 1-diabetes, veelvoudige sklerose, ens.);
  • Miskraam;
  • Gewigsverlies-/toename;
  • Voedingstekorte (a.g.v. wanabsorpsie);
  • Oormatige braking;
  • Spontane neusbloeding en vele meer…

Gevolgtrekking: gluten-sensitiwiteit veroorsaak verskillende simptome by verskillende mense. Luister na jou liggaam.

  • Althea Nel is ‘n voedselwetenskaplike en verbonde aan die Koa Culinary Studio in Pretoria. Probeer ook Althea se resep vir ‘n gluten-vrye polentakoek.

Bykomede bronne:

Davis, W. 2014. Wheat Belly. London: HarperThorsons.

http://chriskresser.com

http://draxw.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter dp ·

My opienie is . As ek n pit in slik, gaan die regdeur jou ingewande en kom heel onder uit. As n hoender hom in slug word dit verteer. Dis beskerim die lugaam hom self teen dit wat nie goed is vir hom nie. Hoekom dit fyn maal en op die manier die mens vergiftag. Los Godsdiens uit om jou verkeertde siening op ander af te dwing. Wat dan op self verkeerd is.

alida ·

Shoe Pieter ek dink jy moet eerder op jou spelling konsentreer 1!!!

Lettie Winter ·

Dankie vir die voorreg om deel te kan wees en so ook op hoogte bly met al die inligting by Maroela Media. Dankie.

Jovita Stander ·

Baie dankie vir hierdie artikel – ek het dit baie interesant gevind en verstaan nou beter ons ’emosionele’ verhouding met brood! Dit gee ook feite rondom die verandering in graan soorte soos ons dit vandag ken wat verduidelik hoekom ons brood nie meer is soos in die ‘ou’ dae nie. Die lys van toestande help baie – ek het al baie gelees oor gluten en nog nie op so ‘n volledige lys afgekom nie.

Martha ·

Ek is baie bly oor die artikel net jammer dat daar nog dokters is wat nie gluten allergie “erken” nie. Vandat ek jare gelede gelukkig deur ‘n dokter se hulp gediagnoseer is, het ek ‘n baie gesonder lewe. Ek het vreeslik hoofpyne gehad wat met braking gepaard gegaan het. Die gluten bou op in die liggaam en so het dit my liggaam vergiftig. Dit is ook oorerflik en baie mense wat gediagnoseer word, sukkel om die kopskuif te maak. Ek eet baie ander produkte, soos ryskoekies of ander produkte wat beskikbaar is. Ek mis nie brood nie.

Chester ·

Martha, weet jy, ek het ook al gedink ek moet ‘af’ van brood juis omdat ek baie van die simptome in Althea se lys herken, darem nie alles nie. Maar hoe kry mens dit reg? As ek net 2 dae sonder brood is, kry ek soort van onttrekkingsimptone. Kan mens nie maar van hierdie ‘gluten vry’ meel brood eet nie?

Antoinette ·

Hallo, hierdie is briljant – baie dankie. Jy kan nie dalk vir ons ‘n resep gee van brood wat gesond is nie? Brood is net so gerieflik om in ‘n kosblik te pak en vir ‘n vinnige middagete.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.