Soorte resepte:

Nuwe kultuur-wynnavorsing word gedoen

Argieffoto (jackmac34, Pixabay)

Argieffoto (jackmac34, Pixabay)

Wat dink Suid-Afrikaners oor die wyne wat hulle drink? Verskil die menings en gewaarwordinge van landgenote vanuit verskillende kultuurgroepe daaroor? Wat laat hulle besluit om ‘n spesifieke bottel te kies en te geniet? Dís van dié vrae wat wynnavorser dr Hélène Nieuwoudt en kollegas aan die Universiteit Stellenbosch wil beantwoord deur ‘n nuwe projek wat pas van stapel gestuur is.

Die mening van wyngebruikers in die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng sal onder meer deur opnames en wynproepanele getoets word. Deelnemers sal onder andere gevra word hoe spesifieke wynstyle vir hulle proe, ruik en lyk, en ook hoe hoog hulle die kwaliteit daarvan ag. Hierdie inligting sal verwerk word om sogenaamde sensoriese profiele op te stel wat die spesifieke voorkeure van mense uit verskillende marksegmente omskryf.

Dr Nieuwoudt hoop om danksy die insigte van fokusgroepe ʼn verteenwoordigende prentjie te kry van gereelde Suid-Afrikaanse wyndrinkers se opinies. “Ons wil weet wat die persepsies van die man op die straat oor wyn is, en wil daarom nie net die mening van opgeleide wynproeërs insluit in ons opname nie,” verduidelik sy.

Die driejaar-projek word behartig deur dr Nieuwoudt en ander navorsers van die US Departement Wingerd- en Wynkunde se Instituut vir Wynbiotegnologie en die Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskap. Dit word befonds deur die Suid-Afrikaanse departement van wetenskap en tegnologie, nadat die wynnavorsingsnetwerk Winetech onder meer daarvoor gemotiveer het.

Opnames sal ook gedoen word oor gebruikspatrone en die faktore wat wynaankope beïnvloed. Daar sal onder meer hierin saamgewerk word met prof Nic Terblance van die Departement Ondernemingbestuur aan die Universiteit Stellenbosch, en besigheidslui uit die privaatsektor.

“Inligting wat danksy die projek ingesamel word sal onder meer help om Suid-Afrikaanse wyne plaaslik baie meer spesifiek onder landgenote van verskillende groeperinge te bemark,” glo Gerard Martin, uitvoerende bestuurder van Winetech en ook direkteur van die US se Instituut vir Wingerd- en Wynwetenskap. “Vir die vooruitgang van die Suid-Afrikaanse wynbedryf is dit beslis belangrik dat ons ʼn duidelike beeld het van die voor- en afkeure van gebruikers uit veral die ontluikende swart middelklasmarkte.”

Die projek sal ook bes moontlik later uitgebrei word om die voorkeure en persepsies van wyngebruikers in onder meer Namibië en ander lande in Afrika en Asië te toets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.