Soorte resepte:

Resep: Tamatiesop met aartappelkluitjies (gnocchi)

Foto: Woestynkombuis

Foto: Woestynkombuis

Dit is die allerheerlikste tamatiesop en die gnocchi of kluitjies gee daardie lekker vol-gevoel nadat jy hiervan geëet het. Die sop verg die minste moeite en is gou-gou klaar, maar die kluitjies neem tyd in beslag – tog is dit beslis die moeite werd. Ek vermoed dat mens die kluitjies ook met botterskorsie of patat kan maak vir ʼn heel ander ervaring, maar kom ons begin met die maklikste opsie.

Lewer 4 porsies

Vir die gnocchi (aartappelkluitjies)

Bestanddele:

  • 800 g aartappels – gebruik ‘n melerige soort
  • 200g meel
  • 5 ml sout
  • 1 eier

Vir die tamatiesop

Bestanddele:

  • 30 ml olyfolie
  • 1 klein ui, geskil en fyngekap
  • 1 knoffelhuisie, geskil en fyngekap
  • 2 x 410 geblikte gekapte tamaties
  • 80 g tamatie pasta
  • 100 ml witwyn
  • 15 ml suiker
  • gerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
  • sout en peper na smaak
  • 1 groot handvol vars basiliekruid
  • 500 ml groente-aftreksel
  • vars gerasperde parmesaankaas, om voor te sit

Vir die gnocchi

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C en bak die aartappels tot vurksag. Dit duur gewoonlik 1 uur.
  2. Haal die aartappels uit, halveer en skep die binnekant van die aartappels in ‘n bak.
  3. Druk die aartappel deur ‘n sif of fyn met ʼn aartappeldrukker – maak seker dat daar geen klonte is nie. Laat die aartappels ‘n bietjie afkoel.
  4. Voeg  ¾ van die meel, asook die sout by en meng. Voeg ook die eier by en gebruik nou jou oordeel om te bepaal of nog meel nodig is. Wees versigtig om nie die deeg te veel te verwerk nie, want jy wil hê die kluitjies moet veerlig wees!
  5. Verdeel die deeg en maak dermpies van omtrent 2 cm lank en 1,5 cm dik.
  6. Sny nou die gnocchi en rol elkeen oor die agterkant van die vurk om riffies te vorm. Dit is belangrik, want die sop sal aan hierdie riffies vaskleef. Hou eenkant.

Vir die tamatiesop

Metode:

  1. Verhit die olie in ‘n pot en voeg die ui en knoffel by. Soteer tot sag en ‘n bietjie bruin.
  2. Voeg die res van die bestanddele by en laat ongeveer 30 minute kook. As jy ‘n baie gladde sop wit hê, giet die sop in ‘n voedselverwerker en verpulp of hou dit lekker dik en vol tekstuur.
  3. Skep nou die gnocchi in die tamatiesop en kook stadig tot die gnocchi gaar is.
  4. Skep die sop in mooi sopborde en sit voor met vars gerasperde parmesaankaas.

Bron: Woestyn Kombuis saamgestel deur Louise van der Hoven
Uitgewer: Fox and Raven home

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.