Soorte resepte:

Resep: Geroosterde hoender-en-sampioenlasagne

Lasagne

Foto: Leserskring Spogresepte

’n Maklike lasagne, gepak met groente en geur, vir ’n lui Sondagmiddag.

Ingestuur deur Catherine Riggien, Prestbury

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele:

Sous

  • 400-500 g knopiesampioene, gesny
  • 10 ml fyngedrukte knoffel
  • 25 ml kookolie
  • 125 ml mielieblom
  • 2 liter melk
  • sout na smaak
  • 15 ml heelkorrelmosterd

Vulsel

  • 250 g murgpampoentjies, gesny en gestoom
  • 250 g vlapampoentjies, gesny en gestoom
  • 4 wortels, gerasper en gestoom
  • 500 g bevrore geroomde spinasie, ontdooi
  • 2 boksies (250 g elk) spinasie- of gewone lasagnevelle
  • 1 groot geroosterde hoender, ontbeen en in klein stukkies gesny
  • 250 g patats, in blokkies gesny en gestoom
  • 250 g botterskorsies, in blokkies gesny en gestoom
  • 500 ml gerasperde cheddarkaas

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 180  ̊̊C.

Sous

  1. Soteer die sampioene en knoffel in die olie. Meng die mielieblom met ’n bietjie melk. Sit eenkant.
  2. Voeg die res van die melk, sout en mosterd by die sampioene.
  3. Giet die mielieblommengsel by en roer aanhoudend. Kook tot dik en romerig.

Vulsel

  1. Plaas die murgpampoentjies, vlapampoentjies en wortels op die boom van ’n groot, gesmeerde oondvaste bakskottel.
  2. Bedek die groente met die spinasie en ’n derde van die sampioensous. Bedek met ’n laag lasagnevelle.
  3. Plaas die hoender bo-op die lasagnevelle saam met die gestoomde patats en botterskorsie.
  4. Bedek met ’n derde van die sampioensous en nog ’n laag lasagnevelle.
  5. Rond af met die res van die sous en gerasperde kaas.
  6. Bak vir 25-30 minute of tot die pasta gaar is en die kaas begin borrel.

Bron: Leserskring spogresepte
Uitgewer: Human & Rousseau

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.