Soorte resepte:

Resep: Herderspastei met baba-aartappels

Herderspastei-met-baba-aartappels

Herderspastei met baba-aartappels. (Foto: Lekker&Gesond Veselryk/Lapa Uitgewers)

Sit hierdie herderspastei voor met ʼn groenslaai of lemoenpampoentjies wat met ertjies gevul is.

Lewer sowat 6 porsies

Bestanddele:

  • 500 g baba-aartappels, geskrop en met skiI in 1 cm-skywe gesny
  • 200 g eiervrug, met skiI in blokkies gesny, 15 minute in soutwater geweek
  • 10 ml kanola- of olyfolie
  • 1 middelslag-ui, geskil en gekap (100 g)
  • 400 g maer gemaalde bees- of volstruisvleis
  • 1,25 ml elk kruienaeltjies en kaneel
  • 10 ml beesvleisaftrekselpoeier of 25 g Ina Paarman‑ vloeibare beesvleisaftreksel
  • 50 ml tamatiepuree
  • 125 ml kookwater
  • 200 g geelwortels, geskraap en grofgerasper
  • 175 ml ongegeurde laevetjogurt
  • 1 groot eier (55 g)
  • 125 ml gerasperde beleë cheddarkaas (50 g)

Metode:

  1. Kook die aartappels vir 12 minute in ʼn bietjie water tot net gaar en dreineer. Spoel die eiervrug met skoon water af en dreineer. Voorverhit die oond tot 180 ºC.
  2. Verhit die olie en roerbraai die ui en maalvleis totdat die ui deurskynend is en die vleis ligbruin. Voeg die eiervrug, kruienaeltjies, kaneel, vleisaftreksel, tamatiepuree, kookwater en wortels by. Verhit tot kookpunt, bedek en prut 20 tot 25 minute totdat die groente gaar is. Skep die vleismengsel in ʼn oondbak, maak gelyk en rangskik die aartappelskywe bo-op sodat die skywe oorvleuel.
  3. Klits die jogurt en eier saam en roer die helfte van die kaas by. Skep die sous oor die aartappels en strooi die oorblywende kaas, kruie en paprika oor. Bak vir 30 tot 35 minute totdat die bolaag gestol en goudkleurig is.
  4. Bedien dit met ʼn groenslaai of lemoenpampoentjies met ertjies gevul.

Bron: Lekker & Gesond: Veselryk deur Hilda Lategan
Uitgewer: Lapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

My vrou maak dit met soetpatat in plaas van aartappels. En dis waarom ek oorgewig is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.