Soorte resepte:

Resep: Portobello sampioene met spinasievulsel

Die-Daniel-plan-kookboek-CUM-uitgewers

Met meer as 100 heerlike resepte bied Die Daniël-plan Kookboek verskeie opsies om gesonde maar lekker kos in jou lewe te bring. Foto: CUM-uitgewers.

Popeye die matroos was reg! Spinasie is een van die wêreld se gesondste kossoorte. Dit is ryk aan vitamiene en een van die groentes wat die meeste voedingstowwe bevat. Een koppie van hierdie blaargroente bevat meer as jou daaglikse vereiste van vitamien K en A. Dit is verder ‘n uitstekende bron van meer as 20 voedingstowwe, onder meer vesel, kalsium en proteïene. Boonop bevat die sampioen-familie kragtige anti-inflammatoriese eienskappe, voorkom kanker en versterk die immuunstelsel. Sampioene is ook propvol minerale asook die beste groentebron van vitamien D.

Bestanddele:

  • 12 portobello sampioene of 24 groot wit sampioene
  • 2 eetlepels ekstra suiwer olyfolie
  • ½ teelepel seesout
  • ¼ teelepel growwe swartpeper
  • 1 pakkie (280 g) bevrore spinasie, ontdooi
  • ½ koppie fetakaas, gekrummel
  • ½ koppie bokmelkkaas
  • ½ bossie groenuie, gekap
  • 2-3 knoffelhuisies, fyngedruk
  • ½ koppie vars pietersielie, fyngedruk
  • ½ koppie geroosterde okkerneute, gekap
  • ¼ koppie fyn Parmesaankaas
Portobello-sampioene

Portobello sampioene. Foto: Lafujimama.com

Metode:

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C
  2. Verwyder die stingels en kieue van die sampioene. Pak die sampioene op ‘n bakplaat met die stingelkant na onder. Bak vir 6-8 minute of lank genoeg sodat die sampioene hulle vog verloor en droog word.
  3. Draai die sampioene om met die stingelkant na bo. Verf elke sampioen met olyfolie. Geur met sout en peper. Hou eenkant.
  4. Verlaag die oond se temperatuur na 180 °C.
  5. Sit ‘n vergiettes oor ‘n groot bak of in die wasbak. Sit die spinasie in die vergiettes en druk al die water uit.
  6. Voeg die spinasie, kaas, uie, knoffel, pietersielie en okkerneute saam in ‘n ander bak. Meng deeglik. Verdeel die mengsel tussen die sampioene. Sprinkel Parmesaankaas oor. Bak onbedek vir ongeveer 15 minute.

Bron:

Die Daniël-plan Kookboek deur Rick Warren, dr. Daniel Amen en dr. Mark Hyman in samewerking met Die Daniël-plan se ontwerpersjefs.

Die boek is in hardeband en as ‘n e-boek beskikbaar en kan by CUM-uitgewers bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.