Aanval by KZN-skool veroorsaak paniek

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Chaos het Woensdag by ʼn laerskool in KwaZulu-Natal geheers toe ʼn sekerheidswag aangeval is en ʼn bystander skote met ʼn gasgeweer gevuur het in ʼn poging om hom te help.

Volgens inligting deur die polisie het ʼn onbekende man die middag omstreeks 13:00 toegang tot die terrein van Alston Primêre Skool in Pietermaritzburg bekom en een van die sekerheidswagte met ʼn skroewedraaier gesteek.

ʼn Persoon wat die voorval sien gebeur het, het die sekerheidswag te hulp probeer snel deur ʼn gasgeweer af te vuur. Die vermeende aanvaller het daarna die persoon met die gasgeweer bestorm en óók met die skroewedraaier in die hand gesteek.

“Hierdie voorval het ten aanskoue van die skool se leerders plaasgevind en die toeskouers was duidelik baie geskok en getraumatiseerd deur die gebeure,” het die KwaZulu-Natalse departement van onderwys in ʼn verklaring gesê.  “In ʼn video wat vanaf ʼn ooggetuie gekry is, kan gesien word hoe leerders skreeuend weghardloop.”

Volgens die departement is die vermeende aanvaller deur personeel op die skoolgrond in bedwang gebring en aan die polisie oorgegee. Lt. kol. Nqobile Gwala het bevestig die 40-jarige man is in hegtenis geneem en word aangekla van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die provinsiale departement sê hulle sal die polisie bystaan in hul ondersoek en ook hul eie ondersoek na die gebeure van stapel stuur.

“Dit is kommerwekkend dat ons kinders blootgestel word aan hierdie vlak van geweld. Onderwysers sê ook hulle is bekommerd oor hulle en die leerders se veiligheid,” sê die onderwysdepartement.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

George ·

As jy my steek met n skroewedraaier, probeer jy my vrek maak, dis poging tot moord man. Dit voor kinders ook.

Harley Davidson ·

Gemeet aan die malema aanranding saak teen die polisie kolonel glo ek hierdie is ‘n ligte meningsverskil en sal die verdagte ‘n ligte vonnis kry indien enige.

Maritha ·

Dit is kommerwekkend dat sulke dinge gebeur, maar eintlik moet al di ouers bietjie die kinderprogramme op tv met aandag kyk. DIT is kommerwekkend! Die meeste kinders sien eintlik hierdie goed elke dag in hul eie ouerhuise!

T-Man ·

Wat is n sekerheidswag? Gee hy versekering dat hulle okay sal wees tot die sekuriteitswagte die kans kry om sekuriteit te lewer? Of is dit n ander afrikaanse woord vir n persoon wat sekuriteit lewer? Net vir my om iets nuuts te leer.

Willem ·

Die “sekerheidswag” is in dieselfde klas as die “gasgeweer”. Beide skep die illusie dat jy veilig is.

Marius ·

‘n Gasgeweer keer nie ‘n mal mens nie. Net ‘n regte vuurwapen kan dit doen. Tog is dit moeilik om so ‘n situasie te red want dalk kry een van die kinders seer.

Die arme wag staan seker ook net daar met ‘n flits en ‘n lepel en probeer die skool en homself veilig hou. Dis ‘n onmoontlike situasie.

Delia ·

Ai hoe lag ek nou..flits en lepel.
Maar eintlik is die voorval so tragies

Delia ·

Stuur asb net ook die trauma beraders..moenie vergeet..nasorg is beter as voorsorg.

Kosie ·

As ek so kyk na die hofsake dink ek hy kan wegkom, hy het mos nie bedoel om die wag aan te val nie

Danie ·

Amper vergeet skole nou ook n uiters gevaarlike terrein net soos ons paaie en taverns.Plase nog nie op die lys nie.

Willem ·

Laat dit nou ‘n les vir almal wees – om jouself met ‘n “gasgeweer” tebewapen en dan te dink jy kan jouself beskerm is ‘n fout ‘n Regte pistool in die hande van iemand wat die moeite gedoen het om opleiding te ondergaan sou daardie aanvaller in sy spore gestuit het.

Frank John ·

Weard, almal van nuwe SA se inwoners wys hoekom hulle nie saam kan leef en ‘n sukses van dié nuwe SA maak nie of van enige iets nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.