Aardbewing: 70-jarige ná 33 uur van onder puin gered

Reddingswerkers soek na oorlewendes in Izmir, Turkye. (Foto: REUTERS/Murad Sezer)

’n 70-jarige man is Sondag van onder die puin van ’n ineengestorte gebou in die Turkse stad Izmir gered nadat hy sowat 33 uur lank vasgekeer was weens die aardbewing wat Vrydag in die Egeïese See naby Turkye en noord van die Griekse eiland Samos voorgekom het.

Die dodetal staan nou op 62. Altesaam 60 van die sterfgevalle is in Izmir aangemeld terwyl twee tieners op Samos omgekom het.

Reddingswerkers spook die afgelope twee dae onverpoos om oorlewendes van onder die puin van ineengestorte geboue te red.

Turkye se ramp-en-noodbestuuragentskap (Afad) sê meer as 3 000 tente en 13 000 beddens is sedert die aardbewing opgerig om tydelike skuiling aan ontheemdes te bied.

Altesaam 940 mense is in die aardbewing beseer.

Hoewel 700 slagoffers tot dusver uit hospitale ontslaan is, word agt slagoffers in dié stadium in die waakeenheid van hospitale behandel, het Fahrettin Koca, die Turkse minister van gesondheid, gesê.

Maroela Media het vroeër berig Afad het die aardbewing op 6,6 gemeet terwyl die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) die aardbewing op 7,0 geregistreer het.

Die kern van die aardbewing was sowat 17 km van die stad Izmir en kon in Turkye en die Griekse eilande tot by Istanboel en Athene gevoel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.